HY IS REEDS DAAR
Die Burger, 18 Februarie 1984, bladsy 10
Daar is baie dinge in ons lewe wat vir ons vreesaanjaend is. Dikwels kom ons in aanraking met die leed wat vriende van ons tref, en dan kom die vraag vanself by ons op of ons in staat sal wees om ’n dergelike leed te kan verwerk as dit op ons pad sou kom. Dan ontdek ons in onsself die vrees vir sulke donker dinge en die angs dat ons hele wêreld in duie sal stort as iets soortgelyks oor ons sou moes kom.
Maar dit kan nog erger wees. Ons kan simptome en voortekens ontvang van wat na alle waarskynlikheid die een of ander donker ramp in ons lewe kan word. Dan kan dit gebeur dat ons in die grootste angs gedompel word, omdat ons allerhande vermoedens het van wat moontlik oor ons kan kom. Nie alleen die onsekerheid daaroor nie, maar ook die vrees vir die gevolge daarvan, laat ons dan deur die vreeslikste ontsetting heen leef.
Tog kan dit vir ons tot ’n groot bemoediging wees om te merk hoe ander gelowiges wat wel die dinge oorkom wat deur ons so gevrees word, telkens weer op ’n wonderbaarlike wyse die krag ontvang om dit te verdra en daardeur heen te leef. As ’n mens hulle na die geheim daarvan vra, antwoord hulle dikwels dat hulle maar net so bevrees was as jy vir wat moontlik oor hulle kon kom, maar dat, toe hulle werklik in daardie smart gedompel is, hulle ontdek het dat die Here reeds daarin is saam met hulle, sodat die angel daaruit weg is en die ondraaglike tog draaglik geword het.
Natuurlik weet ons almal teoreties dat dit so is, maar blykbaar het ons hier te doen met iets wat slegs in die ervaring self geleer kan word. In ons konkrete ervaring ontdek ons dat die beloftes van die evangelie wel waar is, en dat ons werklik opgevang word in die troos en nabyheid van Christus waarvan ons teoreties geweet dat dit aan ons beloof is.
Dit kan ons ook troos met die oog op die dood. Christus is nie net voor ons in ons lyding nie. Hy was ook voor ons in die dood. Die dood kan vir ’n gelowige ’n groot mate van sy verskrikking verloor as hy daaraan vashou dat Christus ook daarin by ons sal wees. Dit is wel soos die gesangvers sê dat selfs ons beste vriend nie kan meegaan as ons die doodsvallei betree nie. Maar dit is ook waar wat daaraan toegevoeg word: dat Christus ons selfs oor graf en dood heen geleide doen.
Die Bybel staan vol vermanings dat ons nie moet vrees nie. God ken ons hart so goed. Hy weet dat ons, ondanks al sy versekeringe dat dit onnodig is, tog maar bly vrees. Daarom roep Hy ons tot geloof – en wie durf Hom dit weier? – WDJ