’N UITNODIGING
Die Burger, 25 Februarie 1984, bladsy 8
Ons lees in die Nuwe testament meermale van die strenge vereistes wat Christus stel vir diegene wat sy dissipels wil wees.
Dit is verkeerd om te dink dat die strenge vereistes waarvan die Evangelie praat, bedoel is as voorwaardes wat deur ons nagekom moet word ten einde te verdien om deur Christus as dissipels aanvaar te word.
’n Mens kan natuurlik maklik hierdie indruk kry as jy so ’n teks lees as Lukas 14:25. Daar sê Christus byvoorbeeld dat niemand sy dissipel kan wees as hy nie bereid is om afstand te doen van vader en moeder, vrou en kinders, broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe nie. Ook voeg hy daaraan toe dat niemand sy dissipel kan wees as hy nie bereid is om afstand te doen van al sy besittings nie. Dit is dieselfde soort eis wat ons ook teenkom in die geskiedenis van die Ryk Jongman en in alle uitsprake wat betrekking het op die feit dat die koninkryk van God vir ons die hoogste waarde moet wees.
Wanneer ons hierdie eise wetties sou verstaan en sou probeer om hulle in ons eie krag na te kom, staan ons voor ’n onmoontlike opgawe en moet ons noodwendig tot moedeloosheid gedryf word.
In werklikheid bevat hierdie eise egter ’n uitnodiging aan ons. Die bedoeling daarvan is om ons werklik vry te laat word. Dit is om aan ons die geleentheid te gee om onsself so volledig aan God oor te gee en toe te vertrou dat die las daarvan om vir onsself verantwoordelik te aanvaar of vir onsself te sorg, van ons afval. Dit is vir ons onmoontlik om werklik die vreugde van die koninkryk van God en die gemeenskap met Christus te smaak, solank as wat ons nog gevul is met ons eie rykdom en weelde, solank ons nog vashou aan ons sorg oor ons lewe, en solank as ons nog nie onsself werklik oorgegee het, dit is, van ons eie lewe afstand gedoen het nie.
Ons grootste probleem is die krampagtige vashou aan onsself, die liefde vir onsself, die besorgdheid oor onsself. Dit voel vir ons of ons lewe daarvan afhang dat ons onsself moet vashou en gespanne moet waak om niks te verloor nie.
Solank dit so bly, is ons nie vry vir God of vir ons medemense nie. Ons lewe bly rondom onsself sentreer en ons is magteloos om uit die ban van ons geboënheid oor onsself te ontsnap.
Die uitnodiging van Christus om onsself los te laat en Hom te volg, beteken dat ons bevry word van hierdie las om vir onsself te sorg. Vanuit ons gesien is dit wel iets onmoontliks om dit te doen, maar as ons dit deur Gods genade waag om dit te doen, beteken dit vir ons die vreemde vreugde en rus wat volg uit die besef van geborgenheid in die magtige hand van God. — WDJ