MET LIGGAAM EN SIEL
Die Burger, 03 Maart 1984, bladsy 8
Dit is merkwaardig hoe ’n enkele woord soms vir ’n mens tot ’n groot troos kan word. Dit kan selfs ’n woord wees wat ’n mens al duisend keer van tevore gehoor het, maar wat op ’n bepaalde dag skielik na vore spring en beslag op jou bewussyn lê.
So kan dit gebeur dat ’n mens jou lewe lank bekend kan wees met die beroemde antwoord op die eerste vraag van die Heidelbergse Kategismus, naamlik: wat jou enigste troos in lewe en sterwe is. Die antwoord lui, Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Tog kan dit op ’n dag skielik vir jou van die grootste belang word dat hier staan: met liggaam en siel behoort ek aan Christus.
Ook met ons liggaam. Dit is nie so dat Christus net in ons siel belangstel en dit vrygekoop het nie. Dit gaan vir God nie net om ons geestelike lewe nie. Dit is moontlik dat ’n mens in ’n soort oorgeestelikheid kan meen, selfs al gebeur dit half onbewus, dat dit vir God tog hoofsaaklik om ons ewige heil gaan, sodat ons aardse lewe, met alles wat dit inhou, uiteindelik vir Hom minder belangrik is. Miskien herinner ons onsself ook dikwels daaraan dat die aardse lewe tog maar relatief is in vergelyking met wat ons die ewige heil noem. En so kan dit gebeur dat ons nie die volle troos daarvan ervaar dat ons ook in ons aardse en liggaamlike lewe aan Christus behoort, en dat Hy ook dit met sy bloed gekoop het nie.
Tog is dit belangrik dat ons dit sal onthou in dae van liggaamlike pyn; wanneer ons die aftakeling van ons liggaamlike vermoëns begin ervaar, wanneer die ouderdom wat alles breek, sy tol ook in ons liggaamlike en intellektuele lewe begin opeis, wanneer ons te make het met teenspoed en rampe, of wanneer siekte die liggaam van ’n dierbare onder ons oë sloop. Dit is vir ons tot ʼn onuitspreeklike troos om te weet dat dit alles nie buite God omgaan nie. Ook ons liggaamlike lewe behoort aan Christus, en alles wat daarin met ons gebeur, staan onder sy sorg.
Wanneer ons hart werklik hiervan deurdring word – en ons behoort in stilte genoeg tyd te neem om die volle betekenis daarvan tot ons te laat deurdring – sal dit ’n verskil maak aan die manier waarop ons teenoor ons liggaamlike beproewinge staan. Die geloof in die liefde en sorg van God, behoort die las van ons skouers af te neem. Alle moontlike opstandigheid of bitterheid behoort opgelos te word in die vertroue op sy ontferming en wysheid. Dit is nie dieselfde as die dowwe berusting in die beskikking van die noodlot nie. Dit is die oorgawe in die hande van die ewige Almag en Liefde en die moed om te aanvaar dat Christus sy eiendom sorgvuldig bewaar, en dat niks dit uit sy hand sal ruk nie. — WDJ