IETS IS AAN’T GEBEUR
Die Burger, 10 Maart 1984
Daar is baie van ons wat oor jare heen gebid het vir ’n verbetering in die verhoudinge tussen die verskillende bevolkingsgroepe in ons land. Daarby sal dit vir ons veral belangrik gewees het om te vra dat God veral sal gee dat die Christene oor die grense van die verskillende volkere heen mekaar beter mag leer aanvaar, vertrou en vind. En in hierdie verband sal ons ook gebid het vir die verskillende kerke, dat hulle die leiding mag neem om in gehoorsaamheid aan die gebod van die liefde en die leer van die Bybel oor die eenheid van die kerk, ’n magtige faktor te word in die skepping van ’n nuwe klimaat in ons land.
Dit sou uiters ondankbaar van ons wees as ons daarom nie sou opmerk hoe daar tog talle tekens is dat ons gebede in hierdie opsig verhoring vind nie. Iets is besig om in ons midde te gebeur. Miskien is dit nog maar ’n wolkie so groot soos ’n man se hand wat in die lug verskyn. Tog kan niemand die werklikheid daarvan mis kyk nie.
Daar is by baie Christene in die blanke gemeenskap ’n groeiende bewuswording van die noodsaaklikheid om na hulself te kyk deur die oë van die ander bevolkingsgroepe in hierdie land. Daar is ’n begeerte om reg te maak wat verkeerd is, om eie dommigheid, agtelosigheid en kortsigtigheid agter te laat, om sensitiewer te word vir die nood en behoeftes van andere, om sover moontlik alles te laat vaar wat vir andere krenkend kan wees; en om te bewys dat die Christelike liefde ook vir ons deurslaggewend is.
Dit sou verkeerd wees om te dink dat hierdie gesindheid vroeër by ons mense ontbreek het, maar miskien het ons dit onder ’n maatemmer weggesteek, het ons nie ’n klimaat geskep waarin dit vryelik tot uiting kon kom nie, en het ons daarmee vir onsself die weg geblokkeer om uitdrukking te verleen aan wat tog van die mees elementêre kenmerke van ’n Christelike lewenshouding is. Miskien het ons toegelaat dat valse teenstellings en valse vrese ons daarvan weerhou om spontaan te doen wat van Christene verwag kan word. Ons het ons gemaksug en ons onwil om in die Christelike liefde te wandel, vir onsself gerasionaliseer soos die priester en die Leviet in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan, wat ook gemeen het dat hulle genoegsame rede het om nie te doen wat voor die hand liggend was nie.
Maar nou is daar iets aan die gebeur. Wie oë het om te sien, kan dit oral opmerk. Dit is tans van die grootste belang dat ons nie sal toelaat dat hierdie nuwe instelling weer vernietig sal word nie. Daarvoor moet almal van ons verantwoordelikheid aanvaar. Wie nou uit bitterheid of uit vrees die deur van hoop wat voor ons oopgaan weer toeklap, neem ’n onberekenbaar groot verantwoordelikheid op hom. — WDJ