VERGIFNIS GENEES
Die Burger, 24 Maart 1984
Aan al ons dade kleef daar iets onherroepliks. Die ou spreekwoord sê: Gedane sake het geen keer nie. Dit is veral wanneer ons dade verrig het wat pynlike gevolge het, dat ons hiervan bewus word. Soms sou ons enigiets wou gee om iets wat ons gedoen het, ongedaan te maak, of ’n woord wat ons onverhoeds uitgespreek het, ongesê te laat wees – maar dit kan nie.
In ons verhouding tot ander mense is daar duisende dinge wat binne hierdie kategorie val. Ons het andere benadeel deur ons selfsug, ons het hulle gekrenk deur ons arrogansie, ons het hulle verwond deur ons liefdelose wreedheid, ons het hulle verraai deur ons lafhartigheid, ons het hulle laat ly deur ons agteloosheid of deur ons gemeenheid.
Wat kan ’n mens hieraan doen? Soms, in ons beter oomblikke, dring die spyt en berou oor hierdie dinge in ons na vore. Nou is dit hierdie ding wat ons byval, dan weer daardie. Met skaamte dink ons soms aan die skuld wat ons teenoor ander het vanweë ons onbillike, onnadenkende en dikwels ook opsetlik verkeerde optrede teenoor hulle – meestal weet ons dan dat ons eintlik niks meer daaraan kan doen om dit reg te stel nie.
Sonde het altyd iets onherroepliks. ’n Mens kan dit eintlik nooit regstel deur iets anders wat jy doen nie. Dikwels is jy ook nie meer in ’n posisie om daarvoor te vergoed nie, selfs al was dit in ’n sekere sin nog moontlik. Diegene wat al dood is, wat heeltemal uit ons leefwêreld verdwyn het; wat onherroeplik verbitterd teenoor ons is, of wat om een of ander rede nie meer deur ons bereik kan word nie, maak dit in elk geval ’n saak van onmoontlikheid om teenoor hulle reg te stel wat ons verkeerd gedoen het. Dikwels is dit egter so dat die verkeerde wat ons gedoen het, ’n situasie geskep het wat nou teen geen enkele prys meer ongedaan gemaak kan word nie.
Onder sulke omstandighede is dit duidelik dat net vergifnis iets kan doen om ’n onherroeplike situasie te verander. Vergifnis is genesend. As ons maar ons skuld kan bely teenoor diegene wat ons veronreg het, en as die woord van vergifnis in opregtheid teenoor ons uitgespreek kan word, dan word alles tog anders, selfs al kan aan die gevolge van ons dade weinig gedoen word.
Vergifnis is ’n gawe van God aan die sondige mensheid. Dit bevry die een wat vergewe word sowel as die een wat vergeef. Dit skep nuwe moontlikhede in vasgeloopte verhoudinge en situasies. Dit kan nie ongedaan maak wat verkeerd is nie, maar dit kan dit oorstyg en ’n nuwe horison oopmaak.
Ons menslike vergifnis is egter maar ’n floue afbeelding van die vergifnis van God. Sy vergifnis is die laaste ruspunt van ons hart. Daar is geen groter bevryding as wanneer God die kerker van ons skuld oopsluit met sy vryspraak, en aan ons ’n nuwe toekoms gee nie. — WDJ