ONS ONDERSKAT DIE GENADE
Die Burger, 24 Maart 1984
Waarom is daar so baie Christene wat nie die moed het om sonder huiwering daarvan te getuig dat hulle kinders van God is nie? Ons bedoel nie mense wat nog nooit die beloftes van Gods vergiffenis aangeneem het nie. Sulke mense kan natuurlik nie sekerheid van hul kindskap hê nie. Ons praat hier van mense wat dit wel gedoen het; selfs herhaaldelik gedoen het; wat opreg begeer om vastheid en sekerheid daaroor te hê dat hulle kinders van God is, maar wat tog altyd ’n stuk onsekerheid daaroor het of hulle werklik hulself kinders van God mag noem.
Meer as een antwoord kan hierop gegee word. Die belangrikste is dat sulke mense geneig is om te gering van Gods genade te dink. Dit kan veral die geval met mense wees wat diep onder die indruk van hul eie sondigheid verkeer. In voortdurende selfondersoek en selfbeskuldiging hou hulle hulself besig met die ellende wat hulle in hulself ondervind. Hulle is diep deurdronge van die verkeerde neigings, gesindhede en dade in hul lewe. Hulle weet soos die verlore seun in die gelykenis baie goed dat hulle nie werd is om Gods kind genoem te word nie. Hulle is daarom bang dat dit voorbarig, ja oneerlik, kan wees as hulle van hulself as kinders van God praat – laat staan nog as hulle daarvan sou getuig teenoor andere.
Natuurlik is sondebesef iets goeds. Dit is selfs absoluut noodsaaklik. Dit is alleen die siekes wat die geneesheer nodig het, nie die wat dink dat hulle gesond is nie. Dit moet dan ook ver van ons wees om sulke mense daarvan te probeer oortuig dat hulle nie regtig so sondig is as wat hulle dink nie. Die feit van die saak is immers dat selfs hulle met hul sensitiwiteit vir hul eie verkeerdheid, nog lank nie ’n volledige besef het van presies hoe diepgewortel en hardnekkig hul verwording is nie.
En tog het mense wat op hierdie wyse in die onsekerheid leef, nie gelyk nie, omdat hulle Gods genade onderskat. Dit is goed en wel om diep onder die indruk van jou eie sondigheid te verkeer. Maar dit is verkeerd om te dink dat jou sondigheid groter is as Gods genade. Dit is verkeerd om by jou eie sondigheid te bly staan, en nie vanuit jou sondigheid jouself op Gods genade te werp en daarop te vertrou nie. As ons maar net na ons eie verkeerdheid bly kyk en op grond daarvan twyfel of ons kinders van God is, werk ons heimlik tog met die idee dat ons op een of ander wyse waardig moet wees om kinders van God te wees. En voor ons dan nie self oordeel dat ons daardie waardigheid het nie, weier ons om volledig op Gods genade te vertrou.
Dan is dit glad nie so vroom om voortdurend by jou eie sonde te vertoef nie. Hoe groter ons van Gods genade dink, hoe minder mag ons ons eie sondigheid as ’n laaste woord aanvaar. Gods genade is altyd groter as ons ellende. Daaraan moet ons vashou, teen alle besef van ons eie sondigheid in. Daarop moet ons ons sekerheid bou, nie op ons eie oordeel oor hoe ver ons reeds in onsself op die weg van lewensvernuwing gevorder het nie. — WDJ