DAAR IS ’N GRENS
Die Burger, 31 Maart 1984
In ons meegevoel met andere in hul nood en leed sou ons graag iets meer wou doen as om maar net ons simpatie te betuig of om hier en daar iets kleins vir hulle te doen waardeur ons ons meelewing sigbaar kan maak. Ons sou so graag hul leed in hul plek wou dra. Ons sou so graag vir hulle wou instaan en hul nood van hulle wou afneem.
Dit is soos die liefde voel. Elke ouer ken daardie gevoel teenoor sy kind. Wie gestaan het by die bedjie van sy lydende kind, of wie die leed van sy kind in teleurstelling en droefheid meegemaak het, weet wat dit is om te begeer om die smart van die kind te kan oorneem, eerder as om hom te sien ly.
Maar dit geld natuurlik nie net vir die verhouding tussen ouer en kind, of tussen man en vrou nie. Dikwels kom ’n mens iemand op jou lewensweg tee oor wie se lot jy so bewoë raak dat jy bereid sou wees om veel te gee, ja eintlik ’n deel van jouself te gee om daardie mens uit die donkerte na die lig te laat kom.
Ons lees in die Bybel ook van hierdie begeerte om die ellende van andere oor te neem. Moses bid dat God liewer sy naam uit die boek van die lewe moet uitdelg, as dat Hy die volk Israel moet verwerp vanweë hulle sonde (Exodus 32:32). Paulus sou later ongeveer dieselfde sê as hy in Romeine 9:3 skryf dat hy self vervloek sou wou wees, afgesny van Christus, as dit maar tot voordeel van die verlore Israel kon wees.
Maar ons weet dat dit nie kan gebeur nie. Afgesien daarvan dat ’n mens moet vra of Moses en Paulus werklik besef het wat hulle sê, en of ons self ook, as ons begeer om die smart van diegene wat ons liefhet oor te neem, tot in die grond van ons wese werklik bereid is om dit te doen, is dit duidelik dat ons hier voor ’n grens staan. Ons kan nie in mekaar se skoene gaan staan nie. Ons kan wel met mekaar saam ly, maar ons kan nie plaasvervangend vir mekaar ly nie.
Hoe diep ons medelye met mekaar ook al is, in die laaste instansie is smart iets wat deur elkeen na sy maat self deurleef moet word. Ons staan magteloos naas mekaar om meer te doen as lief te hê en blyke daarvan te gee. Waar die water werklik diep word, moet elke mens sy moeisame weg alleen gaan. Selfs die liefde van diegene wat die naaste aan ons is, reik dan nie verder as ’n hand wat ons aanraak, ’n laaste kus op ons lippe, of ’n traan om ons ontwil gestort nie.
Maar die evangelie leer ons dat hierdie grens tog deurbreek is deur Een wat in ons plek gestaan het. Ja, dit is waar dat die lyding en kruisdood van Jesus nie beteken dat ons geen persoonlike smart meer hoef te ly nie. Tog is dit ook waar dat die diepste donkerheid van ons afgesny is. Die vloek en die verwerping om ons ontwil het Jesus gedra. In die ergste smarte is ons tog nie van God verlate soos Hy nie.
Daarom kan ons in ons meegevoel met andere ook dankbaar daaraan vashou dat Christus vir hulle gedoen het wat ons nooit kan doen nie, en dat Hy ook tans, in die smart en leed wat hulle noodsaaklikerwys nog moet dra, met veel groter liefde en sorg by hulle betrokke is as ons. – WDJ