Die skyn bedrieg

DIE SKYN BEDRIEG
Die Burger, 7 April 1984

Daar is ’n spreekwoord wat sê dat ons mense voor die kop sien, maar nie in die krop nie. Ook hierdie stuk volkswysheid bevat ’n groot stuk waarheid. As ons dit beter onthou, sal dit miskien ’n groot verandering maak aan ons kyk op ander mense.

’n Mens kan hier veral dink aan ons opvatting van diegene wat so ’n onverbeterlike indruk van selfversekerdheid, selfvertroue en onverstoordheid maak. Daar is sulke mense wat lyk asof hulle alles volkome onder beheer het, asof hulle nooit twyfel aan wat hulle sê of dink nie, asof dit vir hulle maklik is om besluite te neem, asof die hele lewe vir hulle glashelder is, en asof jy dus niks beters kan doen as om jouself eenvoudig op hul leiding te verlaat nie.

Dikwels plaas ons sulke mense in posisies van leierskap. Dit is nie vreemd nie, want ons almal wil graag leiersfigure hê wat begaafd is, wat weet wat hulle wil en wat reg is, wat nie weifel by keuses wat gedoen moet word nie en wat om hierdie redes vertroue inboesem.

Wat ons soms egter nie besef nie, is dat sulke persone ook maar mense is net soos ons. Ondanks die skyn van die teendeel, het sulke mense dikwels ook maar hul innerlike onsekerhede, hul momente van twyfel, hul ure van moedeloosheid, hul verborge teleurstellings en hul deel van persoonlike leed en aanvegting wat hulle moet verduur.

Gelukkig ook maar dat dit so is. Anders sou ons Frankenstein-monsters vir leiers in die openbare lewe gehad het. Dit lyk soms asof ons begeer om sulke onmenslike mense as leiersfigure te hê, maar diep-in behoort ons te weet dat dit nie goed sal wees nie. Ons het nie behoefte aan onmenslike mense om leiding aan die wêreld te gee nie. Ons het behoefte aan menslike mense met al die innerlike worsteling en swakheid wat aan die mens eie is, maar wat geleer het hoe om daarmee om te gaan. Ons het behoefte aan mense wat weet waar hulle hul eie troos en vastigheid buite hulself moet soek – in Christus – en wat daarom ook – ondanks alle menslike swakheid – uiteindelik deur Gods genade tog die koers van die Koninkryk kan volg.

Dit is nie nodig dat openbare figure altyd moet probeer om na buite die indruk te wek dat hulle oorloop van selfversekerdheid nie. Die dominee hoef homself nie voor te doen as ’n man wat nooit probleme het nie en die politikus hoef nie te maak asof hy die oplossing vir alle moeilikhede in sy magtige hand het nie. Ons is maar mense. Laat ons maar mense bly. Dit wek uiteindelik veel meer vertroue as enige skyn van selfoorskatting.

Ook vir ons omgang met mense wat so selfversekerd voorkom, is dit van belang as ons onthou dat die skyn dikwels bedrieg. Dit kan ons help om met veel meer deernis ook na sulke mense te kyk en hulle nie daarop vas te pen dat hulle altyd so magtig en onoorwinlik hoef voor te kom nie. Dit kan veel vryheid vir sulke mense meebring as ons genoeg tyd en geduld met hulle kan bybring om dit vir hulle duidelik te maak dat ons nie van hulle verwag om altyd so rotsvas te lyk nie. Ook vir hulle kan dit soms nodig wees om ’n skouer te hê om op te huil. – WDJ