U wil geskied

U WIL GESKIED
Die Burger, 14 April 1984

Die grootste toets wat aan die gehoorsaamheid van Christus op sy lydensweg gestel is, was die vraag of Hy gewillig was om die wil van God volkome te aanvaar en die lydensbeker te drink wat die Vader vir Hom berei het.

Ons maak ’n groot fout as ons dink dat die lydensweg van Christus vir Hom eenvoudig en maklik was, omdat Hy tog as Persoon die ewige Seun van God is. Die vleeswording het beteken dat die ewige heerlikheid van die Seun van God verberg is agter die swakheid van die menslike natuur soos dit deur die sonde en die gevolge daarvan geword het. En hoewel Christus sonder sonde was, was Hy tog nie vry van die stryd, die versoekbaarheid, die aanvegting en die angs wat ons menslike bestaan kenmerk nie.

Daarom is dit ook nie vreemd dat sy natuurlike menslike wil alleen deur stryd en angs heen in volkome harmonie met die wil van die Vader kon bly nie. Niks wat menslik is, het aan die Middelaar vreemd gebly nie. Die toneel in Getsemane waar Hy met die Vader in die gebed geworstel het, teken vir ons die stryd en die benoudheid wat vir Christus met sy gehoorsaamheid aan die wil van God gepaard gegaan het. In Hebreërs 5:8 lees ons: “Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is.” Daar was nooit by Christus enige begeerte om aan die Vader ongehoorsaam te wees nie, maar die angsvolle weg van sy lyding het getoon watter stryd dit is om in hierdie volkome gehoorsaamheid te bly. Die weg van oorwinning vir Christus was uiteindelik geen ander weg nie as die weg van oorgawe en geloof. As Hy werklik vir ons ’n Middelaar moes wees; as Hy werklik in ons plek moes staan; as Hy werklik moes regstel wat ons verkeerd gedoen het, dan moes Hy in volle menslike gehoorsaamheid en op ’n volledig menslike wyse deur geloof, oorgawe, stryd en volharding heen die wil van die Vader doen. Hy kon dit alleen doen omdat sy goddelike natuur sy swakke menslike natuur versterk en omring het. Maar dit was die wil van die Vader dat Hy dit alles juis as mens moes doen. In sy menslike natuur moes Hy gehoorsaam wees. In sy menslike natuur moes Hy vir ons ly.

Daarom is die moment van die grootste triomf op sy lydensweg ook die moment waarop Hy in Getsemane kan sê: “Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by my verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Die volledige aanvaarding van die wil van die Vader en die aflegging van sy natuurlike menslike wil beteken die oorwinning oor al ons menslike ontrou, ongehoorsaamheid, outonomie en opstand teen God.

In gemeenskap met Jesus en deur die krag van die Heilige Gees leer ons om dieselfde te doen. Die moment van ons oorwinning oor ons lydingsangs is die moment waarop ons onsself met ons hele situasie aan God oorgee, ons eie wil aflê en bereid is om Sy wil oor ons lewe te aanvaar. – WDJ