Deur die dood tot die lewe

DEUR DIE DOOD TOT DIE LEWE
Die Burger, 20 April 1984

Die boodskap van die evangelie is die boodskap van lewe deur die dood heen. Sonder die kruis van Goeie Vrydag is die oop graf en die vreugde van Paassondag onmoontlik. Die bevryding tot die nuwe lewe kom tot stand deur die vernietiging van die ou sondewerklikheid heen. As Christus Hom nie met ons skuld vereenselwig en plaasvervangend ons ou mens aan die kruis laat spyker het nie, sou ons nie met Christus in ’n nuwe lewe kon opstaan nie.

Die erns van die sonde is te groot en te vreeslik om ’n geruislose oorgang uit die verlorenheid na die verlossing moontlik te maak. Daar gaap ’n afgrond tussen ’n lewe onder die heerskappy van die sonde en ’n lewe onder die heerskappy van die Gees van God. Wie van die een tot die ander oorgaan, moet deur ’n doodslinie heen waarin die ou bestaan radikaal uitgewis kan word om plek te maak vir die nuwe.

Niks minder nie as die kruis en die graf en wat dit vir Jesus beteken het, staan tussen ons ou werklikheid buite Christus en ons nuwe werklikheid in Christus. Ons kan alleen deur die dood heen tot die nuwe lewe kom. Die oordeel van God oor die sonde moet eers oor die ou lewe heengaan, voordat die nuwe geboorte uit die dood kan plaasvind.

Daarom praat die Nuwe Testament ook oor die verlossing nie in morele terme nie, want die Christelike heil is veel radikaler as dat ons gehelp word om beter te lewe. ’n Hoogstaande morele lewe is nie noodwendig ’n bewys van die soort vernuwing wat die Bybel verlossing noem nie.

Die Bybel praat oor die heil in terme van dood en lewe, van sterwe en opstanding, van vernietiging en wedergeboorte. Die verloste mens is ’n nuwe skepping van God wie se oordeel oor die chaos van ons ou bestaan, heengaan. Dit is daarom ook die taal van die doop, wat die sakrament van die dood van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens is: dit gaan om sterwe en opstaan saam met Christus. Radikale kan die betekenis van die oorgang wat by die verlossing aan die mens voltrek word, nie geformuleer word nie.

Om in die kruis en opstanding van Christus te glo, beteken meer as om te glo dat Christus vir ons sondes gesterf het en dat Hy opgewek is as bewys daarvan dat God sy offer vir ons sondes aanvaar het en ons daarom in Hom vryspreek. Dit beteken ook om saam met Christus gekruisig en opgewek te word. Ons moet glo dat ons ou self saam met Christus gekruisig is en dat ons nuwe werklikheid niks minder is nie as deelname aan die opstandingslewe van Christus.

Dit is wat Paulus bedoel as hy sê dat hy met Christus gekruisig is en dat hy nie meer lewe nie, maar dat Christus in Hom leef (Galasiërs 2:20). Dit gaan daarby om ’n wonder van die Heilige Gees wat diep in ons bestaan voltrek word. Dit is ’n saamgroei met Christus en ’n gelykvormig word aan Hom wat dieper as die vlak van ons gewone ervaring lê. Dit is iets wat in die geloof toegeëien moet word. Terselfdertyd moet dit egter as geloofswerklikheid die grond vorm waarop ons onsself stel, die basis waarop ons staan in ons wil tot ’n nuwe gehoorsaamheid aan God. Dit is die sin van sulke uitsprake in die Nuwe Testament as dat ons moet reken dat ons vir die sonde dood is (Romeine 6:11) en dat ons daarom die sondige dinge wat nog deel van ons lewe is, moet doodmaak (Kolossense 3:5).

Op hierdie wyse gaan dit ook in ons lewe deur die dood heen na die lewe. Die afsterwe van die ou mens word langsamerhand ’n groter werklikheid in ons. Namate die Gees van·die lewe in Christus die heerskappy in ons lewe oorneem, kom daar liefde in die plek van die haat, vriendelikheid in die plek van bitterheid en agterdog, aanvaarding van andere in plaas van verwerping, nederigheid in die plek van hoogmoed. ’n Nuwe lewensbeginsel begin ons bestaan beheers. Daar is geen groter triomf vir die genade van God as dat dit lewe uit die dood skep en ’n sondaar ’n aandeel gee aan die heerlikheid van Christus nie. – WDJ