GELOOF IS ’N STRYD
Die Burger, 28 April 1984
Dit is ’n misvatting om te dink dat ’n Christen nooit twyfel of geloofsprobleme het nie. Blykbaar dink baie mense so. Dit het die effek dat sommige vanweë die feit dat hulle dikwels allerlei vorme van twyfel by hulself ervaar, meen dat hulle dus nie egte gelowiges kan wees nie, terwyl andere weer uiters geskok reageer as hulle tot die ontdekking kom dat hierdie of daardie bekende gelowige ook sy tye van stryd en twyfel ken.
In werklikheid word die geloof egter altyd deur twyfel begelei. Geloof is ’n voortdurende stryd. Herman Bavinck, die bekende gereformeerde dogmatikus, het in sy tyd geskrywe dat ’n Christen nie glo omdat dit so vanselfsprekend is nie, maar ondanks alles wat twyfel wek.
Spesifiek in verband met die Bybel merk hy op dat daar in die Heilige Skrif baie dinge is wat twyfel aan die gesag van die Skrif by ’n mens kan laat ontstaan. Uit ervaring weet selfs die eenvoudigste gelowige van die teenstelling tussen die wysheid van hierdie wêreld en die dwaasheid van God. Alle Christene, geleerd of ongeleerd, het te make met die nimmereindigende stryd om ons gedagtes gevange te hou onder die gehoorsaamheid aan Christus.
Op aarde kom niemand hierdie stryd te bowe nie. Ook vir die gelowige bly daar onverklaarbare dinge en aanvegtinge wat altyd weer deur die geloof oorwin moet word. Daar is geen geloof sonder stryd nie. Geloof is na sy aard stryd, stryd teen die skyn van die dinge. Solank iemand nog iets glo, word sy geloof van alle kante betwis en bestry. Ons wandel op aarde nie deur sien nie, maar deur te glo aan dit wat ons nie sien nie. Daarom het die geloof die karakter van “nogtans” vas te hou aan wat nie vanselfsprekend is nie, maar wat inteendeel eerder totaal onmoontlik kan lyk. Daarom spreek Jesus ook diegene salig wat nie gesien het nie, en tog geglo het.
Wanneer ons hierdie karakter van geloof as ’n voortdurende stryd beklemtoon, is dit natuurlik nie die bedoeling om twyfel goed te praat nie. Daar is mense wat ’n spel met twyfel speel, wat dit aanprys dat ’n mens twyfel en dit selfs as ’n bewys van besondere volwassenheid beskou om agter alles ’n kritiese vraagteken te plaas. Hulle treur nie daaroor dat hulle soms nog twyfel nie; hulle roem feitlik daarin dat hulle so vol onsekerheid is en dat hulle nie so naïef is om maar kinderlik alles te aanvaar wat aan ons in die Skrif voorgehou word nie.
Ook dit is verkeerd. Dit kan selfs sieklik wees. Geloof is wel omring deur twyfel en word voortdurend aangeveg deur twyfel, maar geloof moet twyfel telkens weer oorwin. Christus het sy dissipels nooit daaroor geprys dat hulle twyfel nie, maar hulle juis daaroor bestraf. Per slot van rekening is geloof vertroue op God, en twyfel is wantroue in Hom. En hoe kan ons dit ooit goedpraat om God te wantrou? – WDJ