DIE GESTALTE VAN ’N DIENSKNEG
Die Burger, 15 Mei 1984, bladsy 8
Die Rooms-Katolieke teoloog Yves Congar het reeds in die sestigerjare ’n aangrypende boek geskryf wat in Nederlands verskyn het onder die titel: “Voor een arme en dienende kerk”. Hy voer daarin ’n pleidooi vir ’n terugkeer van die kerk na wat hy volgens die Nuwe Testament oorspronklik was: ’n gemeenskap van gelowiges wat deur hul nederigheid en diensbereidheid die diensknegsgestalte en armoede van Christus afbeeld.
Die kerk het egter, aldus Congar, sedert die vierde eeu ’n ander rigting ingeslaan. In daardie eeu is die kerk deur die Romeinse keiser Konstantyn onder beskerming geneem. Die tydperk van vervolging was vir die kerk verby. Die Christendom is tot die godsdiens van die Romeinse Ryk verklaar. Onder die opvolgers van Konstantyn sou die kerk selfs die Romeinse staatskerk word.
Dit het vir die kerk geweldige voorregte meegebring. Oornag het die posisie van die kerk verander. Waar kerklike ampsdraers tevore vervolg is, is hulle toe meteens as hooggeplaaste staatsburgers beskou. Die biskoppe is gelyk gestel aan die hoogste staatsamptenare en het begin om die eretitels en eretekens van die amptenary van die staat te dra. Die Ryk het betaal vir die oprigting van kerke in al die stede. Die kerk het weldra ’n beeld van rykdom en heerlikheid gehad. Daarby het die kerk groot invloed verkry op die openbare lewe. Die magteloosheid van die kerk is verander in ’n posisie van mag. Maar het dit werklik beteken dat die kerk sy ware roeping beter kon vervul? Congar betwis dit – en met reg. Die kerk het duur betaal vir sy wêreldse invloed. Hy het begin funksioneer soos alle ander sosiale institute en veel van sy oorspronklike karakter ingeboet. Hy het meer bekommerd geword oor sy eie selfbehoud as oor die heil van die wêreld. Hy het die kerk van die rykes en die magtiges geword en sy diensknegsgestalte verloor.
Dit is altyd weer die groot gevaar wat alle gevestigde kerke bedreig. Hulle kan so ingekapsel raak in die samelewing dat hulle weinig meer word as institute wat hulself ten doel stel om die bestaande waardes van die toplaag van die samelewing te bevestig. Hulle word weinig meer as religieuse kultuurorganisasies en hulle deel in die heerlikheid van die magtiges en die rykes. Die dienskneg word dan ’n heer, waarskynlik met allerlei gebare van nederigheid, maar dit is dan slegs nog ’n kwessie van styl.
Dit is een van die goeie dinge wat gebeur het dat daar in ons eeu soveel onrus in die kerke oor die wêreld heen ontstaan het oor die vraag of die kerk nog die beeld van Christus vertoon. Die roep om vernuwing van die kerk staan direk in verband hiermee. Dit is noodsaaklik dat die kerke doelbewus alle aardse heerlikheid moet prysgee, hulself as sosiale instellings moet relativeer en tot egte dissipelskap van Christus moet kom. Dit is iets om daagliks voor te bid. – WDJ