Daar is ’n verskil

DAAR IS ’N VERSKIL
Die Burger, 12 Mei 1984, bladsy 10

Daar is ’n groot verskil tussen intellektuele kennis van wat die evangelie ons leer en die ervaring van die werklikheid daarvan in ons lewe. Enige mens wat die moeite wil doen, kan ’n redelike insig in die boodskap van die Bybel verkry. Dit is egter ’n totaal ander saak of daardie insig ook ’n mens se lewe verander.

Wanneer alles in ’n mens se lewe redelik normaal verloop, kom die verskil tussen hierdie twee dinge nie so maklik aan die lig nie. Ons kan dan maklik ander mense, maar ook onsself, onder die indruk daarvan bring dat ons weet waarom dit in die evangelie· gaan. Dit is egter wanneer krisisse oor ons lewe kom dat ons skielik ontdek – en dit miskien ook na buite sigbaar laat word – hoe min die evangelie nog werklik tot in die wortels van ons bestaan ingedring het.

Een van die probleme van ons geestelike lewe is dat ons so maklik ander mense napraat. Ons leer in die kerk, en in ons omgang met andere, allerlei terme en uitsprake oor wat die evangelie vir ’n mens beteken. Ons sing liedere en ons bid gebede wat van ’n stand van geestelike lewe getuig waarvan ons self geen ervaring het nie. Omdat ons egter aan dergelike uitdrukkings gewoond geword het, herhaal ons hulle byna gedagteloos. In die meeste gevalle is ons nie by benadering so vroom as die woorde wat ons gebruik nie.

Wanneer ons egter in ’n hoek gedryf word en die skyn van ons afval, ontdek ons dikwels hoe min ons besit van die dinge waaroor ons so netjies kan praat. Dan word ons gedwing om terug te val agter die linie van vroom woorde na die basis van die dinge waarby ons werklik lewe. En dan kan dit blyk dat ons geestelik totaal onvolwasse, infantiel en kinderagtig is in ons ware begrip van die evangelie, ja, dat ons eintlik nog nooit werklik die dinge deelagtig geword het waaroor ons so maklik en so mooi kan sing en bid nie.

Daarom kan krisisse tot ’n seën vir ons word, omdat dit daartoe kan lei dat ons onsself en ons eie armoede ontdek. Dit kan ons help om gestroop te word van baie woorde en ’n uiterlike vertoon van vroomheid wat in ons eie lewe nie op die werklikheid berus nie en ons daartoe bring om van voor af kinderlik die beloftes van die evangelie vir onsself toe te eien. Dit kan ons leer om baie meer beskeie te word oor onsself, baie meer ootmoedig, maar ook juis daarin baie meer bereid om onsself vas te klem – nie aan wat ons meen dat ons al van die beloftes ervaar het nie, maar aan daardie beloftes self.

Om die evangelie werklik te ken in ’n dieper as intellektuele sin, is om onsself so aan die beloftes van die evangelie toe te vertrou dat ons daaraan die innerlike krag ontleen om in die geloof soos volwasse mense te reageer op die hoogtes en die dieptes van die lewe, sonder selfverheffing of selfbejammering. Daartoe maak die evangelie ons vry. – WDJ