WAAROM DOEN ONS DIT?
Die Burger, 19 Mei 1984, bladsy 8
Daar is seker niks wat so ingewikkeld is as die mens se gees nie. Die motiewe wat ons beweeg om bepaalde dinge te sê of om op ’n bepaalde manier op te tree, is nie altyd vir onsself duidelik nie. Dit verg ’n hele stuk eerlikheid en die vermoë om onsself te kan ontleed om werklik agter te kom wat ons ten diepste beweeg.
Dikwels bedrieg ons onsself en maak ons onsself wys dat dit edel en opregte motiewe is wat ons ’n bepaalde wyse van optrede laat volg. Wanneer ons egter eerlik daarop sou ingaan, sou ons ontdek dat dit nie alles pluis is nie. Ons sê wel dat ons iets doen uit liefde vir die reg en die waarheid; ons gee aan ander en onsself die versekering dat dit op grond van onkreukbare beginsels is dat ons maak soos ons maak; ons mag selfs volhou dat dit enkel gehoorsaamheid aan die Bybel is wat ons ’n bepaalde weg laat volg. Maar dit is lank nie altyd so mooi as wat ons dit maak nie.
Die geskiedenis van die mensheid is vol voorbeelde van die skade wat die persoonlike kleinlikheid, liggeraaktheid of gekrenktheid van persone in invloedryke posisies veroorsaak het in delikate situasies waarin hulle namens andere moes handel. Net so was die persoonlike ambisie, eersug en trots, afguns en jaloesie van sulke persone dikwels verantwoordelik daarvoor dat hulle keuses gedoen het wat pynlike gevolge gehad het vir hele menslike gemeenskappe.
Daarom is dit so noodsaaklik om voortdurend te bid vir leiersfigure in die openbare lewe. Sulke leiers is ook maar mense, en of hulle nou op die gebied van die politiek, die kulturele of die kerklike lewe leiding moet neem, maak niks verskil daaraan dat hulle voortdurend daaraan blootgestel is om hulself deur verkeerde motiewe te laat lei en groot skade aan ons almal te doen nie.
Wat ons veral vir hulle moet bid, is dat hulle die moed sal hê om by elke beslissing eerlik hul hart te ondersoek om vas te stel waarom hulle op ’n bepaalde manier optree. Dit is nie eenvoudig nie. Daar word van elke openbare figuur bepaalde verwagtinge gekoester deur diegene wat agter hom staan. Maar is daardie verwagtinge altyd billik, regverdig en goed? Is dit nie dikwels kollektiewe selfsug of kollektiewe vooroordele of kollektiewe griewe wat mense se verwagtinge vorm nie? En mag ’n gewetensvolle leiersfiguur homself daartoe leen om ter wille van sy eie aansien aan sulke verwagtinge te voldoen?
Ons lewe in ’n spanningsvolle tyd in ons land. Daar is soveel op die spel vir die toekoms. Ons kan dit nie bekostig om in ’n tyd waarin sulke delikate beslissings moet val, onsself deur verkeerde motiewe te laat lei nie. Daarom moet elkeen van ons onsself tien keer ondersoek voordat ons beslissings neem waarvan ons kan voorsien dat dit verwydering en polarisasie sal aanwakker, bestaande klowe sal bestendig of verdiep, en die moontlikheid van versoening tussen mense, kerke of bevolkingsgroepe eerder sal bemoeilik as bevorder. Ons moet weet waar ons motivering vandaan kom, van die Gees van God, of van die verkeerdheid van ons eie hart. – WDJ