DIT IS SO RELATIEF
Die Burger, 26 Mei 1984, bladsy 10
In die Westerse tradisie waaruit ons kom, word tereg veel van gewetensvryheid gemaak. Dit is omdat ons die mens se verantwoordelikheid as mens voor God respekteer en daarom daarvan uitgaan dat daar finale beslissings is wat elke mens alleen by homself en in die lig van sy eie gewete voor die aangesig van God moet neem. Gewetensdwang is vir ons ’n gruwel en die mens onwaardig.
Tog is dit goed dat ons onsself altyd ook weer daaraan sal herinner dat die gewete in sy funksionering uiters relatief is. Dit mag dan so wees dat die gewete in die diepste sin van die woord daarmee te make het dat ons voor die aangesig van God staan en met God saam die waarheid ken en beaam. Op die vlak van ons ervaring is die gewete dikwels maar net die neerslag in ons eie gemoed van die waardes van die groep waarbinne ons leef.
Die gevolg daarvan is dat die dinge waaroor ons gewete ons aankla, die dinge is wat vir ons groep onaanvaarbaar is, terwyl ons gewete ons glad nie sal pla oor dinge wat werklik verkeerd kan wees, maar wat binne ons groep tot die aanvaarde praktyk behoort nie. So vertel Stanley Jones êrens dat ’n Indiër se gewete hom pla as hy die reëls van die kastestelsel oortree, terwyl iemand van buite daardie gemeenskap juis weer ’n slegte gewete sal hê as hy wel volgens die reëls van die kastestelsel teenoor ander mense sou optree.
Ons gewete is wel bedoel om ’n maatstaf te wees wat ons op die goeie pad kan hou, maar dit is lank nie altyd suiwer nie. As die gewete nie gevorm word deur die wet van God nie; as Jesus Christus as openbaring van Gods wil vir ons lewe nie die norm is waaraan ons onsself meet nie, dan is die gewete onbetroubaar. Dan kan dit gebeur dat ons met ’n rustige gewete dinge soos naakte rassisme, liefdelose diskriminasie, gevoellose verontagsaming van andere se gevoelens in ons persoonlike lewe kan toelaat, as die gemeenskap waarin ons lewe nie ’n sterk veroordeling van sulke dinge openbaar nie.
Daarom is dit so belangrik dat ons ’n gemeenskap moet kweek waarin Christelike waardes en norme deurslaggewend is. Huisgesin, skool en kerk het hier ’n groot verantwoordelikheid.
Dit help nie om die gees van die tyd of die bose invloede van die wêreld daaroor te verwyt as ons ’n geslag kweek wat tekens toon van ’n onverfynde gewete nie. Dit is onsself wat in ’n baie groot mate die gewete van die volgende geslag help vorm deur wat onsself is en veral deur wat ons morele standaarde is.
Dit spreek vanself dat die kerk hier ’n groot rol het om te speel. Waar die evangelie suiwer verkondig word; waar werklik na die Bybel geluister word; waar Jesus Christus in sy volle betekenis verkondig word, daar kan die gewetens van mense gevorm word om liefde die maatstaf te maak van wat mag en nie mag nie. – WDJ