Hemelvaart en Republiekfees

HEMELVAART EN REPUBLIEKFEES
Die Burger, 31 Mei 1984

Die feit dat die Hemelvaartsfees en Republiekdag vanjaar op dieselfde datum val, bied aan ons die geleentheid om na te dink oor die vraag wat die belydenis van die hemelvaart van Christus met ons staatkundige lewe te make het.

Dat daar ’n verband tussen hierdie twee dinge bestaan, is sonder meer duidelik. Die hemelvaart van Christus beteken immers vir die Christen dat Christus verhoog is aan die regterhand van God en dat aan Hom alle mag gegee is in die hemel en op die aarde. Hy is die Here van die here en die Koning van die konings. Voor Hom moet elke knie buig. Sy koningskap moet deur elkeen erken en geëerbiedig word.

Hierdie belydenis het nie net betekenis vir ons persoonlike of vir die kerklike lewe nie, maar ook vir ons staatkundige lewe. Die owerhede van die wêreld ontvang al hul gesag om te regeer van God, en is geroepe om hul gesag in onderworpenheid aan Christus uit te oefen. Of hulle dit weet of nie, hulle staan onder die gesag van Christus, en die oordeel oor hul doen en late sal val met betrekking tot die vraag of hulle aan die koningsheerskappy van Christus gehoorsaam was of nie.

Gehoorsaamheid aan die koningsheerskappy van Christus beteken vir die staat om die reg te handhaaf, die kwaad te straf en te beteuel, en so die orde en die vrede in die samelewing te dien (Romeine 13). Die staat moet die instellinge van God soos huwelik, gesin en kerk beskerm, vryheid bied vir die vervulling van die kultuuropdrag van die mens in die breedste sin van die woord, en die verbreiding van die evangelie moontlik maak (vgl 1 Timoteus 2).

Hierdie dinge kan uiteraard ook gedoen word deur ’n staat wat homself nie op ’n Christelike standpunt stel nie, maar die aanspraak van Christus op erkenning van sy heerskappy is totaal en geld ook vir die owerheidspersoon en die staat as instelling. Daarom kan die Christenheid nie anders nie as om by alle owerheidsheidspersone daarop aan te dring om hul persoonlike lewe aan Christus oor te gee, hul roeping in gehoorsaamheid aan Gods Woord te vervul, en die staat as instelling op ’n grondslag te plaas wat van die erkenning van die koningsheerskappy van Christus getuig. Waar laasgenoemde gebeur, het ons te make met wat tradisioneel ’n “Christelike staat” genoem word.

Die Christelike karakter van die staat kom nie net uit in ’n formele erkenning van die gesag van God in die grondwet, die eerbiediging van die Sondag en die Christelike feesdae, die openbare aanroeping van God deur die staat en dies meer nie, maar in die besonder ook in die Christelike karakter van die wetgewing. Die juridiese suiwerheid van die wetgewing; die eerbied wat daarin sigbaar word vir die reg, die gehoorsaamheid aan die wet van God soos dit in die Skrif geopenbaar is, die beskerming van die ordeninge van God en veral die beskerming van die menslike lewe en die waardigheid van die mens as beelddraer van God – dit is die dinge waarin die Christelikheid van die staat sigbaar moet word.

Veral laasgenoemde is in ons land omstrede en sensitiewe sake, en daarom vorm dit die grootste uitdaging vir enige landsregering. As ons op Hemelvaartsdag vir die owerheid sal wil bid dat hy homself volkome aan Christus se heerskappy moet onderwerp, sal daar ’n breë spektrum van sake wees waaraan ons moet dink. Maar die meeste van alles sal ons tog in ons spesifieke situasie vir die owerheid bid dat hy elke vorm van diskriminasie, van rassisme, van die miskenning van die waardigheid van die mens, moet uitskakel uit die wetgewing en bestuur van ons land. Maar ons sal ook moet bid vir die volk van ons land, dat ons daartoe bereid sal wees, omdat Christus die Here is. Die Christelikheid van die staat moet kan steun op die Christelikheid van die kiesers. – WDJ