’N TYD VAN GEBED
Die Burger, 2 Junie 1984
Die Pinkstertyd is jaarliks vir duisende Christene in ons land ’n besondere tyd van gebed. Ook vanjaar sal dit weer so wees dat daar op haas alle plekke in ons land saamgekom sal word vir gemeenskaplike gebed. Dit is iets unieks wat aan ons land eie is, en as ons daaraan dink, is dit inderdaad iets buitengewoons: ’n landwye gebedsaksie van tien dae lank waarin die nood van die kerk en die Christenheid voor God gebring word met die begeerte dat Hy opnuut die vuur van die Heilige Gees sal skenk waarsonder die kerk magteloos en onvrugbaar bly.
As gelowiges mag ons verwag dat God ons gebede graag sal wil verhoor. Is dit dan nie so dat die Bybel ons leer dat God die Heilige Gees gee aan dié wat tot Hom bid nie? En nooi Christus ons nie uit om te bid, te soek en te klop, omdat God aan ons na ons behoefte wil skenk en vir ons die deure van sy genade wil oopmaak nie? En het ons nie die versekering dat, as ons iets vra wat volgens die wil van God is, ons dit sekerlik sal ontvang nie? Waarom het ons dan so dikwels die ervaring dat so ’n tyd van gebed verby kan gaan, sonder dat iets betekenisvol gebeur?
Een van die redes daarvoor kan wees dat ons wel tot God om die vervulling met die Heilige Gees bid, maar dat ons tog nie werklik bereid is om dit te ontvang nie. Ons vra iets met ons lippe, sonder dat ons dit met ons hart begeer. Ons vra van God dinge waarteen ons onsself in werklikheid verset. Diep in ons hart wil ons nie regtig verander nie. Ons vra wel dat God die vuur van die Gees in die kerk en in ons lewe aan die brand moet steek; maar ons bedoel nie daarmee dat die Gees werklik ten volle heerskappy oor ons moet kry nie. Ons wil die grense aanwys van hoe ver ons bereid is om die Gees in ons lewe te laat gaan. En so blokkeer ons self die verhoring van ons gebede.
Miskien moet ons daarom maar begin om te bid dat God in ons die begeerte moet opwek om werklik deur sy Gees aangeraak te word. Dit kan beteken dat ons eers ten diepste bewus gemaak moet word van ons armoede en behoefte. Die siekes het die geneesheer nodig, nie diegene wat dink dat hulle gesond is nie. Solank ons nog dink dat dit met ons nie te sleg gesteld is nie, solank ons nog meen dat ons tog op ’n manier kan klaarkom sonder die vervulling met die Heilige Gees, sal ons nie werklik die aanraking deur die Heilige Gees begeer nie en sal ons gebed in groot mate ’n skyngebed bly. Alle tye van vernuwing in die kerk is gekenmerk deur ’n brandende besef van die nood waarin die kerk verkeer en ’n vurige begeerte dat die Heilige Gees met sy krag ’n nuwe situasie in die kerk moet kom skep.
As ons werklik die vernuwing deur die Heilige Gees begeer, sal ons ook gewillig wees om die verandering te ondergaan wat dit sal meebring. Een ding is seker: niemand kan met die Heilige Gees vervul word en tog dieselfde bly nie. Die Heilige Gees het ’n wonderlike manier om ’n mens se hele lewe om te keer en dit in ’n ander rigting te stuur. Vra maar vir Paulus. Dit is egter die enigste manier om werklik te ontvang wat God ons wil gee. – WDJ