GOD IS GOED
Die Burger, 16 Junie 1984, bladsy 10
Dit is vir die Bybel ’n vanselfsprekende saak dat God goed is. Hoe die gelowige soms ook geneig is om die vraag te vra of God werklik goed kan wees as Hy soveel leed, sonde, onreg en pyn in die wêreld toelaat en duld. Die Bybel ken in hierdie opsig geen aarseling nie. God is goed en in Hom is daar niks wat onsuiwer of onrein is nie. God is lig en in Hom is geen duisternis nie. God is, soos die Nederlandse Geloofsbelydenis dit uitdruk, ’n oorvloedige fontein van al wat goed is.
In sy Groot Kategismus verduidelik Luther dat geloof daarin bestaan dat ’n mens vertrou dat al wat goed is, van God afkomstig is en dat ’n mens van God alleen die goeie moet verwag. God is dit immers, sê hy, wat aan ons alles skenk wat ons nodig het vir ons tydelike en ewige behoeftes, wat ons teen ongeluk beskerm en as iets ons oorkom, ons red en uithelp – ons met goedheid oorlaai en ons van alle onheil bevry. Dan voeg hy daaraan toe: “Daarom ook, meen ek, noem die Duitsers van oudsher ‘God’ met hierdie naam (fyner en treffender as in enige ander taal), afgelei van die woordjie ‘goed’, omdat Hy die ewige bron is van oorstromende goedheid, van wie alles wat goed is en heet, afkomstig is”.
Ons sal hier nie ingaan op die vraag of Luther se verklaring van die woord “God” korrek is nie. Wat egter duidelik is, is dat Hy ons wil leer dat ’n mens oor God nooit anders kan en mag dink as dat Hy louter goedheid is nie, en dat die begrip “God” alle betekenis verloor wanneer ’n mens sou toelaat dat ’n skaduwee oor die goedheid van God gewerp word. Wanneer ons die woord “God” op ons lippe neem, bedoel ons om daarmee te praat oor goedheid in sy suiwerste; onbelemmerde, onbeskryflike suiwerheid – anders praat ons nie regtig oor God nie.
Dit is deel van die stryd van die geloof dat dit vir ons soms moeilik is om hieraan vas te hou. Dit is nie net die mens in sy lyding wat soos Job met God twis, omdat sy goedheid nie altyd vir ons sigbaar is nie. Dit is ook die teoloog en die denkende Christen wat worstel met die talle vrae wat ons logika opwerp, wat dikwels in sware aanvegting kom.
Maar of dit nou om die uitverkiesing gaan of om die voorsienigheid van God, die herkoms van die sonde of die ewige straf, die groot dele van die mensheid wat nooit die evangelie gehoor het nie, of die omvang van naamlose ellende en pyn – in ons worsteling met al hierdie vrae sal ons moet vertrek vanuit die basiese oortuiging dat God goed is, ’n suiwer fontein van al wat goed is. God is in elk geval barmhartiger as ons, regverdiger, liefdevoller, jammerhartiger, genadiger. Dit staan by voorbaat vas. Anders dink ons nie oor God nie. Hier kom ons by die grens van ons denke. En hierdie grens kan ons nie oorskry nie. – WDJ