ONS MAG DIT LOSLAAT
Die Burger, 23 Junie 1984, bladsy 8
Bekommernis is waarskynlik een van die grootste probleme in ons lewe. Dit is dikwels die oorsaak daarvan dat ons lewe somber word, sonder vreugde en spontane, hartlike vrolikheid. Daar is immers geen enkele dag wat nie talle dinge oplewer waaroor ’n mens jou kan bekommer nie. Die gevolg kan wees dat jou lewe ’n grondtoon van besorgdheid verkry. Jou basiese instelling teenoor die lewe word een van vrees vir wat alles verkeerd kan loop.
Die ergste is dat hierdie soort instelling dikwels juis voorkom by mense wat die lewe ernstig opneem en diep bewus is van hul verantwoordelikheid. Dit gaan om gewetensvolle mense, mense wat daarvan hou om orde te handhaaf en graag beheer wil hê oor elke situasie waarin hulle hulself bevind. Daarom is hulle ook geneig om hulself verantwoordelik te voel vir baie dinge wat met en rondom hulle gebeur, en om voortdurend besorg daaroor te voel dat alles nie sal verloop soos hulle graag sou wil sien dat dit gebeur nie. Gevolglik dra hulle ’n swaar las op hul skouers, omdat daar altyd weer een of meer dinge is waaroor hulle in spanning verkeer uit vrees dat iets verkeerd kan loop.
Dit kan vir sulke mense so ’n gewoonte word om hulself te bekommer dat hulle eintlik ongemaklik voel as daar by ’n bepaalde geleentheid nie iets is om hulle oor te bekommer nie. Hulle vermoed dan dat hulle uit ligsinnigheid iets vergeet het en voel skuldig daaroor dat hulle so onverantwoordelik kan wees om ’n keer ook vrolik en sorgvry te wees.
Vir sulke mense kan dit ’n geweldige stuk bevryding wees om te onthou dat ons deur Christus gebied word om ons nie te kwel nie, selfs nie oor dinge waaroor ons miskien rede genoeg het om ons te kwel nie. Dit is nie ’n bewys van onverantwoordelikheid nie, maar van geloof en gehoorsaamheid om ons bekommernis af te lê. Ons mag maar die dinge loslaat. Ons mag maar die dinge in Gods sorg afgee.
Aan die meeste van die dinge waaroor ons ons kwel, kan ons weinig doen deur ons daaroor te bekommer. Jesus sê trouens dat ons nie ’n el tot ons lengte kan byvoeg nie, en die nuwe Afrikaanse vertaling gee dit weer deur te sê dat ons daardeur nie ’n enkele uur aan ons lewe kan toevoeg nie (Matteus 6:27). Niks sal breek as ons die innerlike kramp wat ons lewe in sy greep hou, agter ons kan laat en eenvoudig kan ontspan nie.
Ons laat nie ons dierbares in die steek as ons ophou om ons oor hulle te bekommer nie. As ons hulle aan God toevertrou, sal Hy tog beter vir hulle kan sorg as wat ons met al ons spanning en sorg kan doen. Ons hou ook nie op om betroubare en gewetensvolle mense te wees as ons leer besef dat alles in die wêreld nie van ons afhang nie. Ons gaan maar net staan in die·vryheid waartoe God ons geroep het. Ons mag dit maar doen. – WDJ