Ons moet mekaar ontsien

ONS MOET MEKAAR ONTSIEN
Die Burger, 30 Junie 1984

’n Mens kry die indruk dat dit ’n volkskwaal van ons Afrikaners is om mekaar op ’n hartelose wyse te bestry en nie die volle prys daarvan te bereken om mekaar oor en weer verdag te maak en af te kraak nie.

Dat daar verskille tussen ons sal ontstaan, is natuurlik en onvermydelik. Ons kan net eenvoudig nie oor alle dinge eenders dink nie. Spesifiek wanneer dit om godsdienstige of politieke sake gaan waarby ons baie sterk betrokke is, kan ’n mens verwag dat ons met mekaar oor allerlei dinge sal verskil.

Die verskille hoef ook nie noodwendig negatief waardeer te word nie. Verskille kan ’n baie kreatiewe betekenis in ’n gemeenskap hê en ons dwing om die sake waaroor dit gaan van verskillende kante te bekyk, om so tot die beste moontlike benadering daarvan te kom.

Maar dit kan alleen gebeur as ons ons verskille op sodanige wyse hanteer, dat hulle ’n kreatiewe funksie kan vervul. Dit beteken met name dat ons nie ons eie opvattings moet Verabsoluteer en diegene wat anders as ons dink, moet afskryf, beskinder, verguis en as ons ergste vyande en die toppunt van onnoselheid of kwaadwilligheid moet probeer voorstel nie. Dit is nie alleen ’n teken van onvolwassenheid om so teenoor mekaar te reageer nie. Dit is ook uiters dwaas, omdat ons dan nie meer regtig na mekaar kan luister nie, nie meer van mekaar kan leer nie, mekaar nie meer kan oortuig nie en ook nie meer omgee of diegene wat ons as ons vyande beskou, gebreek, vernietig en opsy geskuif word nie.

Die geskiedenis is vol van voorbeelde van mense wat op hierdie wyse uitgeskakel is en miskien ook fisiek en psigies gebreek is – wie se bydrae eintlik nie gemis kon word nie. Maar die heersende strominge het genadeloos diegene verdag gemaak wat miskien net hul tyd ’n bietjie vooruit was, en daardeur die noodsaaklike ontwikkelinge in kerk en volk vertraag of selfs geblokkeer. Eers later word die skade wat dit gedoen het, ontdek. Die geskiedenis sal waarskynlik baie hard oordeel oor baie wat in hulle tyd as kragtige leiersfigure bekend gestaan het, maar wat in werklikheid mense was wat te klein was om meer as hulle eie beperkte insig te waardeer, en daarom nie geskroom het om ’n hele gemeenskap te beroof van die bydrae wat diegene wat krities teenoor hulle was, kon gelewer het nie.

Ons kan dit nie bekostig om so met mekaar om te gaan nie. Ons sny in ons eie vlees. Ons sal moet leer om mekaar te ontsien. Ons sal volwasse genoeg moet word om met mekaar te praat eerder as om mekaar te beskinder. Ons sal moet probeer om na mekaar te luister eerder as om mekaar te probeer uitskakel. En wanneer leer ons nog eers om te doen wat die Bybel van ons vra: dat die een die ander hoër moet ag as homself? – WDJ