Dit gebeur geruisloos

DIT GEBEUR GERUISLOOS
Die Burger, 14 Julie 1984, bladsy 6

Dit kan geruisloos in ’n mens se lewe gebeur dat die swaarte van jou aktiwiteite en belangstelling verskuif vanaf die dinge wat wesenlik is na dinge wat relatief en verganklik is. Sonder dat ’n mens dit merk, gaan jou lewe steeds meer op in dinge wat bestem is om te vergaan.

Miskien was daar ’n tyd toe ons met jeugdige idealisme daarvan oortuig was dat die lewe werklik ’n sin en betekenis het wat ver bokant die skynbare alledaagsheid daarvan uitgaan. Ons het geglo in die onvernietigbare waarde van liefde en trou, van eerlikheid en onselfsugtigheid, van selfopoffering en onbaatsugtige diens. Ons het iets verstaan van die koninkryk van God en het onsself bereid verklaar om dit met ons hele hart te soek.

Maar intussen het daar ’n groot stuk van die lewe oor ons heengegaan. Ons het soveel ervaar wat ons idealisme getemper het, dat ons totale aanpak van die lewe verander het. Dit is nie dat ons nie meer dieselfde waardes huldig wat ons vroeër met soveel entoesiasme aangehang het nie. As ons daarna gevra word, sal ons dit alles nog onderskryf. Dit is net dat ons dit tans meer teoreties as prakties onderskryf. Ons entoesiasme daarvoor het in ’n groot mate verdwyn. Dit lê nie meer in die sentrum van ons bewussyn nie.

Ons lewe het so vol geword van baie dinge, dat ons geruisloos op ’n afstand te staan gekom het van die dinge wat eens vir ons sentraal was. Dit is deel van die ellende van volwassenheid dat ’n mens se lewe in beslag geneem word deur allerlei dinge wat skynbaar op die koop toe geneem moet word as jy vol in die wêreld wil staan. Die resultaat is egter dikwels dat die aksente in ons lewe verlê word en dat ons tyd en kragte verteer word deur sekondêre dinge.

’n Mens kan hier maar net dink aan die predikant wat so betrokke raak in verantwoordelike kerklike werk dat hy by alle toename in kennis en ervaring, tog geleidelik baie ver verwyder raak van die vreugde in die dinge van die koninkryk wat vir hom deurslaggewend was toe hy besluit het om predikant te word. Of ’n mens kan dink aan talle opregte gelowiges wat so ingesnoer raak in die drukte en klimaat van die wêreld van handel en nywerheid, van geld en status, dat daar nie meer tyd is vir die basiese dinge soos gebed en liefdesdiens nie, en dat hulle moreel al hoe meer op dieselfde vlak beweeg as diegene wat niks van Christus weet nie.

Dit is ’n groot gevaar dat ons innerlik verarm terwyl ons materieel en intellektueel en maatskaplik die sporte van die leer bestyg. Die resultaat daarvan is ’n skynbare lewenswysheid, wat in werklikheid vol oppervlakkigheid is, omdat dit los geraak het van die elementêre dinge wat die lewe die moeite werd maak. Ons moet bid om daarvan bewaar te word. – WDJ