VERANDER OF BEHOU?
Die Burger, 28 Julie 1984, bladsy 8
Ons word in ons tyd daagliks gekonfronteer met ’n groot aantal veranderinge wat besig is om in ons samelewing plaas te vind. Dikwels is ons nie seker of ons hierdie veranderinge moet aanvaar en selfs help bevorder en of ons hulle moet teenstaan nie.
By ons oorweging van hierdie vraag is daar uiteraard baie faktore wat by ons ’n rol speel. Sommige van ons is eintlik van nature teen verandering, van watter aard dit ook kan wees. Ons hou van ons vertroude omgewing, van ons bestaande gewoontes, van die modes soos dit altyd was, en ons voel dat wat vir ons vaders goed genoeg was, seker tog ook vir ons goed genoeg behoort te wees.
Andere hou weer meer van verandering. Hulle koop die nuutste snuffies wat geadverteer word, verander graag hulle haarstyl, is altyd bereid om iets nuuts te oorweeg, en is daar van oortuig dat daar vooruitgang in die wêreld is, sodat dit eintlik net logies en vanselfsprekend is dat ’n mens daarby behoort aan te sluit.
Die openheid vir of geslotenheid teenoor verandering is egter nie net iets van geaardheid nie. Dikwels het dit ook te make met ons belange. As die bestaande toestande ons bevoordeel, spreek dit eintlik vanself dat ons teen verandering sal wees, en omgekeerd. Hoewel ons meestal ons houding teenoor verandering motiveer met allerlei redenasies wat andere en miskien ook onsself daarvan moet oortuig dat dit vir ons slegs om beginsels gaan, is dit tog feitlik deurgaans so dat dit ons belange is, of in elk geval ons idee van wat in ons beste belang is, wat hier deurslag gee.
Die ideaal is natuurlik dat ons ons houding teenoor verandering of behoud werklik deur ’n beginsel moet laat beheers, naamlik die vraag of dit in die beste belang van al die betrokkenes is. En as ons vra wat dan met “die beste belang” bedoel word, behoort ons as Christene te sê: dit gaan om alles wat daarvoor bevorderlik is dat mense moet kan wees wat God bedoel het hulle moet wees. Anders uitgedruk: alles wat mense se geestelike, morele en liggaamlike beswil dien, is in hulle beste belang; alles wal dit strem of afbreek, is daarmee in stryd. Ons sou ook kon sê: alles wat die koninkryk van God en die geregtigheid daarvan dien, is ook in die beste belang van almal, maar alles wat in stryd daarmee is, is skadelik en verwerplik.
As ons so daaroor dink, is dit duidelik dat ons nie ’n ideologie moet maak van behoudendheid of verandering nie. Verandering of konservering op sigself, is nie goed of sleg nie. Die vraag is altyd wat die doel en die gevolge van verandering of behoud van die bestaande is. As verandering dienstig is aan die beswil van almal wat daarby betrokke is; as die menslikheid van die mens daardeur gedien kan word en groter geregtigheid kan geskied – dan kan ons nie teen verandering wees nie, maar moet ons dit bevorder. As verandering dit egter bedreig, is dit ons plig om dit teen te staan. – WDJ