Leer om te gee

LEER OM TE GEE
Die Burger, 4 Augustus 1984

Paulus het volgens Handelinge 20:35 in sy gesprek met die ouderlinge van Efese ’n woord van Jesus aangehaal wat op geen ander plek in die Nuwe Testament vir ons opgeteken is nie, naamlik: “Om te gee maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Dit is ’n uitspraak waarvan ’n mens nie maar net verstandelik kennis moet neem nie. Dit is iets wat ’n mens in jou lewe moet leer deur dit in praktyk te bring. Eers dan besef ’n mens die waarheid daarvan en ervaar jy die geluk wat daarin deur Jesus beloof word.

Ons is meestal so bewus van ons eie behoeftes of vermeende behoeftes dat ons nie aan die nood van andere dink nie. Ons leef in ’n samelewing waar die handel en nywerheid in groot mate daarop ingestel is om altyd weer nuwe behoeftes by ons op te wek. Die hele advertensiewese is gemik op dié dele van die bevolking wat ekonomies sterk genoeg is om allerlei weelde-artikels te kan bekostig. Finansiële instellings praat ons aan dat ons oorsese reise, swembaddens, motorbote en talle dinge meer kan bekostig as ons maar net by hulle wil aanklop en gereeld ’n bedraggie wil belê. Ons word langsamerhand gekondisioneer om te dink dat ons al hierdie heerlikhede behoort te hê, en ons spaar en leen en bedink allerlei moontlikhede hoe om iets te smaak van die “lekker lewe” wat aan ons voorgehou word.

In hierdie proses word dit egter vir ons onmoontlik om nog aan die armes en behoeftiges in ons midde te dink. Hulle verdwyn eenvoudig uit ons gesigsveld, selfs al loop hulle daagliks lewensgroot tussen ons rond. Dat daar duisende mense in Afrika is wat in die greep van hongersnood gevange is; dat daar rondom ons mense is wat nog nooit in hulle lewe die weelde van ’n ordentlike woning of selfs ’n behoorlike bed gesmaak het nie; dat daar talle is wat nie die geleentheid het om tot volle menswees te ontwikkel nie, omdat die middele daarvoor ontbreek – dit sien ons nie meer raak nie.

Dit is opvallend dat Paulus in die genoemde teks aan die Efesiërs sê: “Deur my voorbeeld het ek vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help.” Die armes was altyd vir die Christelike kerk ’n faktor van die grootste belang. Paulus gebruik hier selfs die hulp aan die armes as ’n motivering vir waarom ’n mens hard moet werk.

Ons werk ook hard, maar  nie ter wille van die armes wat ons daardeur kan help nie. Dit gaan veel eerder vir ons om die ekstra plaas of eiendom wat ons nog wil bykoop, om die vermeerdering van ons eie weelde en bates. Maar daarmee toon ons dat ons hele lewensinstelling materialisties is en vreemd aan wat Jesus dit bedoel het om te wees.

Ons sal nooit weet hoe gelukkig dit ’n mens kan maak om uit te deel waar dit nodig is voordat ons onsself hartgrondig van ons hebsug en materialisme bekeer nie. – WDJ