SONDER GELOOF
Die Burger, 11 Augustus 1984, bladsy 8
Daar is baie mense wat met ’n bepaalde hoeveelheid swartgalligheid gebore is. Iemand wat nie so is nie, weet nie waarvan ’n mens praat as jy dit sê nie, want hy kan onmoontlik weet hoe dit is om elke môre wakker te word met ’n gevoel van neerslagtigheid en om altyd weer daarmee gepla te wees om die donker kant van dinge en die somberheid van die lewe, eerder as die vrolike kant daarvan, te ervaar.
Tog is dit verkeerd om agter ons aangebore neerslagtigheid te skuil en ons daarby neer te lê asof niks daaraan gedoen kan word nie. Die verlossing in Christus is mos nie net daar vir die buitekant van ons lewe nie. Dit is mos juis daar vir die bevryding van ons natuur, ons geaardheid, spesifiek ook ons aangebore verkeerde geaardheid uit die mag van die sonde.
As ons daaroor nadink, sal ons insien dat ons neerslagtigheid altyd weer daarmee saamhang dat ons nie met God rekening hou nie. Ons dink oor die lewe buite die geloof om, buite Christus om, buite God om. Solank ons sonder geloof na die donker kante van die lewe kyk, is hulle inderdaad somber en hopeloos. As ’n mens toegee aan jou aangebore swartgalligheid, kan jy jouself natuurlik min of meer verlustig in jou droefheid en uitsigloosheid. Maar dit kan net gebeur solank as wat jy buite die geloof bly.
Sodra ’n mens Christus in die prentjie inbring, word alles anders. Dan besef jy ook dat dit sonde is om so donker na die lewe te kyk.
Dit is in werklikheid ’n belediging vir Christus en ’n miskenning van die evangelie om na die lewe of die dood, die smart of die vreugde van die lewe te kyk sonder om rekening te hou met die verskil wat die kruis en die opstanding van Christus daarvan gemaak het.
Die evangelie maak ons nie onverskillig teenoor die somberhede van die lewe nie: Inteendeel, die evangelie leer ons eerder om die werklike smart van die lewe beter raak te sien, nie net in ons eie situasie nie, maar ook in dié van ander mense. Maar die evangelie leer ons dat die somberhede en die smarte van die lewe nie dinge op hulself is waarmee ons moet klaarkom nie, maar dat dit situasies op ons weg is waaroor ons in die krag van Christus kan triomfeer.
Dit kan selfs waar wees dat ’n mens wat met ’n sekere mate van swartgalligheid gebore is, ’n voorsprong bo andere het. Hy word daardeur immers telkens – miskien elke môre opnuut – daaraan herinner dat hy nie buite die geloof om na die lewe moet kyk of sy dag moet probeer ingaan nie. Daardeur kan hy daarvan bewaar word.
Om die aangename gevoelens wat ’n mens in jouself kan hê, te verwar met die rus en vrede van die geloof – ’n vergissing wat baie maklik kan voorkom by mense met ’n sonnige natuur. Almal van ons moet leer om ons enigste troos te vind in die geloof dat ons hele lewe omvang word deur die liefde en die krag van God. – WDJ