’N TWEEDE BEKERING
Die Burger, 18 Augustus 1984, bladsy 6
Daar is ongetwyfeld baie mense in ons land wat ’n egte geloof in die evangelie het en vir wie hulle geloof op die persoonlike vlak geweldig veel beteken. Hulle het sekerheid dat hulle sonde deur God om Christus ontwil vergewe is. Hulle streef daarna om in gehoorsaamheid aan die wil van God te lewe. Hulle het miskien selfs ’n groot ywer vir die verkondiging van die evangelie aan alle mense en is gewoond om daarvoor te bid en daarvoor by te dra.
Hulle is mense met geestelike integriteit en ’n mens kan nie daaraan twyfel dat die evangelie in hulle lewe ’n rol van betekenis speel nie. En tog blyk dit telkens weer dat hulle geloof net bepaalde aspekte van hulle lewe beïnvloed, terwyl hulle volkome blind kan wees vir vorms van onreg wat ’n bo-persoonlike vorm aanneem en die lewe van die samelewing as geheel stempel.
Sulke Christene kan geweldig gevoelig wees vir sondes op ’n persoonlike en individuele vlak, maar totaal ongevoelig vir sondes op ’n strukturele vlak. Hulle kan mense wees wat vurig kan bid om meer heiligheid in hulle persoonlike lewe, en hulle kan hulleself opreg daarvoor beywer om alles in ons samelewing te bestry wat ons moraliteit op die vlak van die persoonlike lewe bedreig, soos onsedelikheid, drankmisbruik, oneerlikheid en dergelike dinge meer. Maar wanneer dit gaan om dinge wat in ons maatskaplike en politieke lewe verkeerd is, blyk dit skielik hoe ongevoelig hulle daaroor kan wees. Daarvoor voel hulle klaarblyklik geen verantwoordelikheid nie. En dit kan soms ’n heel ingrypende geestelike ervaring kos om sulke Christene se oë te open vir vorme van voortdurende onreg wat in ons samelewingspatroon ingebou is.
Dit kan byna iets soos ’n tweede bekering vra om mense bewus te maak van die vorme van ingeboude kwaad in die opset in die samelewing – veral as dit gaan om dinge wat vir hulle voordeel inhou. En tog is dit niks minder sondig as die talle vorme van persoonlike sonde waarvan hulle so bewus is nie. Die Ou Testament is vol daarvan dat God juis hierdie soort sondes by sy volk veroordeel het, en in ons tyd gaan ons oë steeds meer daarvoor oop dat die toets vir ons Christenskap nie net lê op die gebied van die persoonlike moraal nie, maar ook op die gebied van die gemeenskaplike moraal en meer spesifiek ook van ons politieke moraal.
’n Mens kan jou daaroor verbaas dat daar soveel goeie Christene in ons land is wat bereid sal wees om voor God te erken dat hulle sondaars is en daagliks hulle sonde meer maak, maar ontsteld word as iemand sou suggereer dat hulle skuldbelydenis ook die aandeel moet omvat wat hulle daaraan het dat daar politieke strukture in ons land bestaan waardeur hulle ten koste van andere bevoordeel word, en wat die morele integriteit van ons hele volk bedreig.
Of wil ons dan werklik beweer dat daar nie sulke dinge is nie? – WDJ