Dit omvat alles

DIT OMVAT ALLES
Die Burger, 25 Augustus 1984, bladsy 8

Wanneer ons onsself in die geloof aan Christus toevertrou, beteken dit nie net dat ons die vergiffenis van ons sondes van die verlede deelagtig word nie. Dit op sigself is natuurlik reeds iets onberekenbaar groots. ’n Las val van ons hart af. Ons mag op grond van Gods beloftes weet dat ons sonde, hoe donker en verskriklik ook, geen skeiding meer tussen ons en Hom maak nie.

Tog is dit duidelik dat die betekenis van die evangelie nie daarin opgaan nie. As dit slegs om die vergiffenis van ons sondes sou gegaan het, sou dit beteken het dat die verlede reggestel is, dat God ’n streep deur ons verkeerde dade, woord en gesindhede van die verlede getrek het. Maar dit sou as sodanig nog niks oor die hede en die toekoms sê nie. Dit sou kan beteken dat ons ’n nuwe kans kan kry om van voor af te begin om in die toekoms beter te probeer lewe, maar ons sou geen waarborg hê dat ons beter daarin sal slaag as wat ons in die verlede geslaag het nie.

Daarom is dit van soveel belang om te verstaan dat die geloof in Christus niks minder beteken nie as dat ons in Christus tot kinders en erfgename van God aangeneem word. Daar kom ’n nuwe verhouding tot stand wat alles omvat, nie net die verlede nie, maar ook die hede en die toekoms. God aanvaar verantwoordelikheid vir ons. Hy gee ons nie maar net ’n nuwe kans om weer in ons eie krag te probeer om beter te lewe nie. Hy neem ons soos ons is  en Hy aanvaar ons totaal vir die hede en die toekoms tot in alle ewigheid.

Die versoening tussen ons en God omvat dan ook veel meer as die kwytskelding van die skuld van die verlede. Dit sluit alles in: ook die werking en inwoning van die Gees van God in ons harte, die omsetting van ons innerlike lewe – wat die wedergeboorte genoem word – die vernuwing van ons lewe tot gelykvormigheid aan die beeld van Christus en die uiteindelike verheerliking saam met hom. Daarby gee dit aan ons die versekering dat niks ons sal skei van die liefde van God in Christus nie.

Dit is opmerklik dat Paulus in sy Brief aan die Romeine begin om te praat oor die verlossing van ons sonde deur die geloof in Christus, maar dat hy in die loop van die brief steeds omvattender horisonne van die heil sigbaar laat word, en daarom sy brief met ’n uitbundige lofprysing kan vul oor die totale aard van die verlossing wat ons in Christus ontvang.

Dit is dus nie so dat as ons skuld in Christus versoen is, ons maar net iets “onder meer” ontvang het nie. Dit is dan werklik die diepste werklikheid van ons lewe wat reggekom het. Vanuit ons nuwe verhouding tot God weet ons dat ons geen vrees meer hoef te hê dat iets verskrikliks tog nog weer êrens met ons verkeerd kan loop nie. Dit is nie maar net ’n aspek van ons lewe wat reggekom het nie –alles het eenvoudig reggekom.

Ons moet onsself daarin oefen om nie hierdie omvattende en vertroostende uitsig op die aard van die verlossing van ons te laat wegneem, omdat ons nou dikwels nog so min daarvan sien nie. – WDJ