’N SLEGTE GEWOONTE
Die Burger, 1 September 1984
Dit kan baie maklik gebeur dat ’n mens die slegte gewoonte aanleer om altyd liewer iets slegs as iets goeds van ander mense te sê. ’n Mens moet maar ’n keer na jouself en na andere oplet om agter te kom hoe algemeen hierdie verskynsel is en watter groot gedeelte van ons gesprekke daardeur in beslag geneem word.
’n Mens hoef nie ver te soek om die rede daarvoor te vind nie. Dit is ons liefdeloosheid teenoor andere wat meebring dat ons negatiewe dinge in verband met hulle nie alleen baie skerp raaksien nie, maar ook as ‘t ware in ons geheue aanteken en dit dan na vore haal as hul naam in ’n gesprek val. Dit is ook ons selfliefde wat meebring dat ons in ’n proses van stilswyende vergelyking onsself teen andere afmeet en dan altyd die beste daarvan afkom.
Al spreek ons dit nie so blatant uit as die Fariseër in die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar wat deur Jesus vertel is nie, is die veronderstelling van ons negatiewe beoordeling van andere tog maar dat ons self daarmee baie beter is. Ons voed ons kinders beter op as andere. Ons is getrouer in ons werk. Ons is oordeelkundiger as dit om die mode gaan. Ons is baie verstandiger as andere. Ons is beter Christene as ander. En noem maar op.
Dit is nie so eenvoudig om weer van hierdie gewoonte ontslae te raak as dit eenmaal by ons posgevat het nie. Natuurlik kan ’n mens jou voorneem om dit nie meer te probeer doen nie.
Maar of ons daarmee meer sukses het as wat baie rokers het met hul besluite om op te hou rook, is te betwyfel. Ons sal ontdek dat dit vir ons ’n soort behoefte geword het om eerder negatief as positief oor andere te oordeel en te praat, en ’n behoefte word nie so maklik deur ’n besluit uit ’n mens se gestel verwyder nie.
Daarmee word nie bedoel dat ons nie so ’n besluit moet neem, of dat ons nie werklik moet probeer om dit te bowe te kom nie. Daarmee wil ons egter sê dat die enigste werklike oplossing van hierdie probleem daarin bestaan dat ons vervul moet word met meer liefde vir andere. Dit vra ’n verandering van lewensinstelling, van ons gesindheid teenoor ander mense en ons verhouding teenoor onsself. Anders uitgedruk: dit verg eintlik ’n stuk bekering.
Ook Christene moet hulself voortdurend weer bekeer. Dit is nie so dat ’n mens by een geleentheid die volmaaktheid deelagtig word en dat jou lewe van daardie dag af net vol liefde en vriendelikheid is nie. Die Christelike weg word gekenmerk deur ’n toename in selfkennis, en dit bring mee dat ons gaandeweg onsself beter leer ken, ook wat ons foute en sondes betref. Die vernaamste ding wat op ’n altyd dieper vlak aan ons ontdek word, is ons gebrek aan egte Christelike liefde.
Christelike liefde is ’n gawe van die Heilige Gees wat Hy graag gee aan die wat Hom daarom bid. – WDJ