DIE KRUISWEG
Die Burger, 8 September 1984
Dit is ’n illusie om te dink dat ons in staat sal wees om ten volle aan Christus gehoorsaam te wees, en tog die weg van die kruis te vermy. Daarvoor is die lewe veels te weerbarstig en die gebrokenheid van ons bestaan veels te ernstig.
Ons word voortdurend voor beslissings geplaas waarby ons keuse vir die evangelie op die spel is. Sulke beslissings kom voor in ons huislike lewe, in ons verhouding tot ons vriende, in ons verhouding tot geld en eer, in die vraag hoe ons ons tyd bestee, of in die vraag wat ons maak met die lyding, frustrasie, ongeluk en armoede van mense van allerlei soort wat daagliks op ons weg kom.
Ons natuurlike neiging is om sulke beslissings te probeer ontwyk en maar met die stroom van gebeurtenisse mee te dryf, sonder om op ’n verantwoordelike wyse te vra wat God van ons in elke spesifieke situasie verwag. Dit lyk na die maklikste weg, want daardeur isoleer ons onsself van die dinge wat spanning en pyn veroorsaak. Ons probeer om onsself vry te hou van werklike meelewing met andere, van die pyn wat hulle ly, van die verkeerde dinge waarin hulle vasgevang is, van die hulp wat hulle nodig het. En wat ons self betref, bly ons voortlewe in ’n bepaalde vaagheid en onbeslistheid waarin dit nooit vir onsself heeltemal helder en uitgemaak is watter dinge werklik vir ons deurslaggewend in ons lewe is nie.
Solank ons hierdie weg van nie-betrokkenheid probeer bewandel, bly ons natuurlik die kruis ontwyk. Immers, sodra ons met betrekking tot onsself en ons verhouding tot Christus duidelike keuses doen, moet ons verwag om van binne en van buite aangeveg te word. En wanneer ons in gehoorsaamheid aan Christus onsself tot beskikking van andere wil stel om in hierdie nood en frustrasie, in hulle sonde en verkeerdheid, uit liefde aan hulle hulp te probeer bied, sal ons agterkom dat dit nie ’n weg is wat met rose besaai is nie, maar ’n weg van selfverloëning waarop ons van hulle en van andere teenstand sal ontmoet en selfs verwerping sal ervaar.
Dit het met Jesus so gegaan. Hy self het gesê dat dit met sy dissipels nie anders sal gaan as met hulle Heer nie. Die diepte waarop ons ons inlaat met gehoorsaamheid aan Christus bepaal ook die intensiteit van die teenstand wat ons van magte binne en buite onsself moet verwag. En dit is net die bereidheid om die kruis op te neem en Christus na te volg wat sterk genoeg is om ’n mens in staat te stel om ’n Christelike lewe in die volle konsekwensies daarvan vol te hou. Daaraan kom die meeste van ons nooit toe nie. Ons ploeter selfs as Christene rond in die halfheid wat nie teenstand uitlok nie en dus ook nie die konflik meebring wat egte dissipelskap ontketen nie.
Tog is dit waar dat net ’n konsekwente opneem van die kruis in navolging van Christus die diepte van die vreugde bring wat Hy aan sy volgelinge beloof het. – WDJ