WAAROP ONS VERTROU
Die Burger, 15 September 1984
Dit is moontlik dat ’n mens in oomblikke van beproewing en versoeking jammerlik kan faal, omdat jy jou vertroue nie werklik op God geplaas het nie, maar op jouself of op jou goeie voornemens.
Solank dit met ons goed gaan, kan ons maklik meen dat ons sterk is en dat ons die innerlike krag sal hê om staande te bly waar ander faal. Ons kan in alle opregtheid belowe om getrou te bly aan die dinge wat ons glo. Ons kan beloftes aan God en mens maak dat ons op die regte weg sal bly wandel en dat ons nooit sal teruggaan op ons woord wat ons gegee het nie.
En tog kan dit met ons gaan soos met Petrus, wat ook aan Christus die versekering gegee het dat hy Hom nooit sou verlaat nie, maar Hom sou volg, selfs al sou dit moet beteken dat hy saam met Christus moet sterwe. Ons het geen rede om te dink dat Petrus dit nie bedoel het nie. Daar is selfs enkele aanduidinge dat hy sy belofte gestand probeer doen het. Het hy dan nie ten minste probeer veg vir Jesus en die oor van die slaaf van die hoëpriester afgekap toe die soldate Jesus gevange wou neem nie? Het hy nie – weliswaar op ’n afstand – gevolg toe Jesus weggelei is om deur die Joodse Raad verhoor te word nie?
Maar toe die toets werklik gekom het, het hy Jesus verloën en selfs gesweer dat hy hierdie Man nie ken nie.
’n Mens vra jouself af waaroor Petrus die meeste gehuil het toe by daarna in die donker nag ingeloop het. Was dit uit berou oor sy ontrou, of was dit uit teleurstelling met homself? Waarskynlik het dit om albei hierdie dinge gegaan en hoe kan ’n mens ook altyd in jou eie binneste onderskei tussen wat die swaarste weeg en wat nie?
Maar een ding is duidelik: Petrus het besef dat hy hopeloos gefaal het waar hy nie wou faal nie, dat hy gedoen het wat hy nie wou doen nie. En as hy homself reg verstaan het, sou hy geweet het wat die rede daarvoor was naamlik dat hy te veel op homself en sy eie goeie voornemens gesteun het, en te min op die genade van God.
Die probleem met baie van ons is dat ons onsself vromer skat as wat ons is. Ons leer om in die kerk groot en vroom woorde te gebruik. Ons sê dinge agter ander Christene aan, sonder dat ons die waarheid daarvan in ons eie lewe besit. Ons sing liedere wat ’n peil van geestelike lewe veronderstel wat ons glad nie het nie. En naderhand dink ons dat ons die geestelike kapitaal het wat genoegsaam is om ons deur beproewing en versoeking heen te dra, terwyl ons dit nie het nie, omdat ons nog altyd te veel op onsself vertrou, en te min op God.
Dikwels is dit nodig dat ons eers soos Petrus deur ’n dal van skande en skaamte gaan, voordat ons werklik leer om ons vertroue heeltemal op God te stel en in sy krag staande te bly as die uur van krisis oor ons kom. – WDJ