Dit het tog sin

DIT HET TOG SIN
Die Burger, 22 September 1984, bladsy 6

Op my lessenaar lê ’n klein traktaatjie van ’n dame wat beskryf hoe haar weg gekruis is deur die sogenaamde “voorspoedkultus”. Dit is die opvatting van diegene wat sê dat ’n ware kind van God ’n koningskind is vir wie net die allerbeste goed genoeg is. God wil dat sy kinders ryk en voorspoedig moet wees, gesond en suksesvol. Hy laat niks slegs in hulle lewe toe nie en straf of tugtig hulle ook nooit. Lyding het geen plek in hulle lewe nie. Hulle is geregtig daarop om in die geloof van God alles te eis wat hulle graag sou wil besit, en Hy sal dit aan hulle gee, want alles behoort aan God en Hy wil dit graag aan sy kinders skenk.

Die vraag wat die skryfster stel is telkens: Maar is dit werklik wat die Bybel ons leer? Sy haal ’n hele aantal tekste aan om te laat sien dat die Bybel baie goed weet van tugtiging en lyding in die lewe van Gods kinders. Miskien is die diepste van alles wat sy sê die uitspraak dat hierdie lering geen voorsiening maak vir die kruis in die lewe van Gods kind nie. En sy sou nog, om die juistheid van haar standpunt te bevestig, daarop kon wys dat die Nuwe Testament op so baie plekke laat blyk dat die gemeente nie juis bestaan uit rykes en magtiges nie, maar meestal uit diegene wat by die wêreld nie gereken is nie – wat arm is, wat vreemdelinge op die aarde is, nie baie magtig, invloedryk of geleerd nie (vgl 1 Korintiërs 1:26 en die Briewe van Jakobus en Petrus).

Trouens, sy sou die bekende gedeelte uit die Bergrede – wat as die “saligsprekinge” bekend staan – kon aanvoer om te laat sien dat Jesus juis diegene geseënd noem wat in die oë van die wêreld maar baie “armsalig” sal voorkom, onder meer omdat hulle die treurendes is en vervolg word ter wille van wat reg is (vgl Matteus 5:3–12).

Miskien is dit gepas dat ons hier nog iets byvoeg wat vir ons heiligmaking van die allergrootste belang is, en dit is dat God lyding dikwels in ons lewe gebruik om ons te bring by die doding van onsself. Seker, ons glo dat ons eenmaal aan die kruis reeds met Christus gesterf het, maar daardie sterwe met Christus aan die kruis moet in ons lewe ’n baie praktiese en realistiese werklikheid word. Die wet van die koringkorrel wat moet sterf om vrug te kan dra, geld ook in ons lewe (Johannes 12:24–26). En dikwels gebruik die Heilige Gees lyding en teenspoed om ons te bring waar ons moet wees.

Sou dit wees waarom ons so dikwels vind dat gelowiges wat veel gely het, ’n diepe mildheid in hulle lewe het, ruimte en plek vir andere en ’n bereidheid om Christus in alles te volg? ’n Mens moet versigtig wees om nie die pynlikheid van lyding weg te praat deur op ’n alte maklike manier aan alle lyding sin te probeer gee nie. Maar dit is tog waar dat lyding wat in die geloof gedra word en op die regte manier verwerk word, ’n diepte-dimensie in ons verhouding tot God en ons medemense bring wat anders nie daar sou gewees het nie. En Paulus sê dan tog maar ronduit: “Aangesien ons deel het aan Christus se lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid” (Romeine 8:17). – WDJ