AANVAAR JOUSELF
Die Burger, 29 September 1984, bladsy 13
Baie van ons probleme hang daarmee saam dat ons nie in die regte verhouding tot onsself kan kom nie. Ons het nie vrede met mekaar en met die wêreld nie, omdat ons nie vrede met onsself het nie. In ’n sekere sin kan ’n mens sê dat dit een van die vernaamste vrugte van die verlossing is en dat ons daardeur in die regte verhouding tot onsself gebring word. Of nog skerper uitgedruk: in ’n sekere sin bestaan die verlossing daarin dat ons op die regte wyse teenoor onsself te staan kom.
Die erns van die sonde is juis dat dit ons in ’n verkeerde verhouding tot onsself gebring het; omdat dit ons in ’n verkeerde verhouding tot God en ons naaste gebring het. Die sonde het ons teruggebuig in onsself, het ons losgeslaan van God en ons naaste en ons heeltemal op onsself aangewys. En nou bly ons slinger tussen matelose selfliefde en selfverwerping, wat maar die teenkante is van dieselfde saak. Want in albei gaan dit daarom dat ons te veel van onsself verwag en onsself daarom in selfliefde te hoog aanslaan, wat noodwendig moet eindig in teleurstelling met onsself en gevolglik oorgaan in selfverwerping.
’n Mens kan net die regte verhouding tot jouself vind as jy jouself kan aanvaar en bereid is om met jouself saam te leef. Dit kan egter eers op die regte wyse gebeur as ’n mens jouself uit die hand van God en jou medemens ontvang. Dit lê aan die ander kant van die prysgawe en oorgawe van jouself aan God. Net as ons onsself verloor, kan ons onsself werklik vind. Die werklike betekenis van ons lewe is nooit iets wat op sigself geken kan word nie. Dit is ’n verhoudingsaak. Ons het waarde en betekenis in ons verhouding tot God en ons naaste, en daarom kan ons ook tot onsself alleen in die regte verhouding staan as ons onsself verloor in die liefde teenoor God en ons naaste.
Solank ons lewensideale nog net rondom onsself sentreer en ons die middelpunt van ons lewe bly, gebruik ons alles en almal, selfs God en ons naaste, om onsself te dien. Maar ons eie-ek is ’n harde meester. Hy bly ons dryf tot die uiterste. Hy het nooit genoeg nie. Hy wil altyd meer eer of rykdom, meer aansien of besittings hê. Hy is trots en liggeraak, ambisieus en gierig, of soms ook lui en genotsugtig, wreed en liefdeloos. Dit is eers as hierdie ou self gekruisig word dat ons lewe ’n nuwe middelpunt vind, dat ons ware self na vore kan tree.
Die self wat ons moet aanvaar, is hierdie ware self, hierdie onopgesmukte, gewone mens wat ons werklik is soos God ons gemaak het – met ons spesifieke gawes en beperkinge, ons spesifieke geskiedenis en roeping. Ons hoef nie iemand anders te wees as wat ons werklik is nie. Ons moet net daartoe verlos word om met dankbaarheid te wees wat God ons bedoel het om te wees. Dit is die eenmaligheid van elkeen van ons se bestaan, dat God 0ns gemaak het soos ons is en wat ons is en dat Hy wil hê dat ons in die sonskyn van sy liefde net maar onsself moet wees. – WDJ