DIT GAAN SO GOU VERBY
Die Burger, 6 Oktober 1984, bladsy 10
Dit is so jammer dat ons altyd duisende ysters in die vuur het en dat ons gevolglik die heel besondere geleenthede in ons lewe dikwels by ons laat verbygaan – sonder dat ons die volle betekenis en vreugde daarvan verstaan of geniet het.
As ’n mens se kindertjies klein is, is jy dikwels so moeg, so ooreis deur die veelheid van verpligtinge; so ambisieus om in die lewe ’n gevestigde posisie te verower; so besig met duisend en tien ander dinge, dat jy nie tyd genoeg daarvoor afsonder om hierdie klein mensies te leer ken, hulle te geniet en aan hulle die liefde te gee wat so noodsaaklik is vir hul gesonde ontwikkeling nie.
En voor ons dit besef, het hulle groot geword en het die geleentheid verbygegaan om hulle te gee wat hulle in daardie spesifieke stadium van hul lewe so nodig gehad het. Later sou ’n mens wat wou gee om hulle nog ’n keer weer teen jou vas te druk, maar dan is hulle groot en onwennig en vind hulle dit selfs snaaks as ’n mens sommer net aan hulle hand sou wou vat en dit wou vashou omdat jy hulle so liefhet. Die tyd het verbygegaan toe hulle dit nodig gehad het, en nou is jou soort liefde vir hulle ’n verleentheid.
Net so gaan dit ook dikwels in ons huwelike. Ons maak nie genoeg tyd vir mekaar nie. Ons lewe is so vol van ander belangrike dinge dat ons selfs in een huis en in een slaapkamer by mekaar verby kan leef. In hoeveel huwelike is daar nog tyd vir ’n rustige gesprek met mekaar, vir stil saam met mekaar êrens sit – al praat ons ook nie – vir egte en simpatieke belangstelling in mekaar se probleme, emosies, teleurstellings en spanninge? Die spreekwoord sê dat die skoenmaker se vrou sonder skoene loop, en sommige voeg daarby dat die dominee se vrou verlore gaan. Want dikwels is ons daarop ingestel om na buite ’n sukses te wees, maar binne-in die huwelik waar ons naaste ons soms broodnodig het, ontbreek ons – al is ons liggaamlik teenwoordig. En as dit te laat is, besef ons meteens hoe diep ons gefaal het.
Nie alle mense het die moed om na ons te kom en aan ons te sê dat hulle behoefte daaraan het om ’n rustige uur van ons oorvol program op te eis nie. Soms het selfs ons kinders, ons vrou of ons buurman nie die moed of die geaardheid om dit te doen nie. Ons sal moet leer om te kan raaksien waar daar diegene om ons is wat werklik gehelp sal kan word deur ons persoonlike sorg en aandag. Die tyd om dit te gee gaan ongelukkig verby en dan help dit nie meer nie.
Ons aanvaar te maklik dat mense goed genoeg kan klaarkom sonder ’n bietjie aanmoediging, ’n bietjie belangstelling en ’n bietjie troos. Agter die selfversekerde uiterlike van ’n mens skuil dikwels ’n diep behoefte om ’n keer eerlik sy armoede, sy eensaamheid, sy frustrasie te kan uitspreek en daarin verstaan te kan word. Ons het mekaar nodig. Laat ons vir mekaar medemense wees solank ons nog die geleentheid daartoe het. – WDJ