God is te groot

GOD IS TE GROOT
Die Burger, 13 Oktober 1984, bladsy 8

God is te groot dat ons van Hom ’n voorstelling kan maak wat ook maar enigsins kan beantwoord aan hoe Hy in sy heerlikheid is. Ons voorstellings van God is altyd mensvormig, soos die Bybel ook deurgaans oor God in mensvormige terme praat. Dit beteken nie dat wat die Bybel oor God sê, nie in alle opsigte waar is nie. Maar dit beteken dat ons voorstellings van God nog altyd ver te kort skiet om die volle grootheid van God te omvat. Ons kan God nooit dink soos Hy is nie. Ons kan dikwels nie eens in ons denke alles bymekaarbring wat die Bybel van God sê nie.

Omdat God ons menslike voorstellings aangaande Hom ver oorstyg, gaan dit meestal met ons so dat ons slegs aan een aspek van die heerlikheid van God op ’n bepaalde moment kan dink, en dat dit vir ons uiters moeilik is om dit te verenig met ander aspekte van die heerlikheid van God wat ook in die Bybel geleer word.

Ons kan dit maklik illustreer aan ’n saak soos gebed. As ons tot God in die gebed nader, doen ons dit in die vertroue dat Hy ons sal hoor as ons met Hom praat. Dit beteken dat ons aan God as ’n Persoon dink. Dit is ook wat die Bybel ons leer. God is ons Vader, God gaan met ons op ’n persoonlike wyse om. As ons bid, mag ons dus daarmee reken dat God persoonlik by ons teenwoordig is en na ons luister soos ’n vader of ’n moeder na ons sou luister as ons met hulle praat. Hy is intens by ons persoonlik betrokke en die Here Jesus het ons geleer dat ons Vader ons in die verborgene van ons binnekamer sien (Matteus 6:6).

Ons mag ook daarop reken dat Hy – voor wie ons hele lewe oop en bloot is – weet wat in ons binneste omgaan, selfs al bid ons woordeloos, of selfs al is daar in ons gedagtes en hart ’n ongeformuleerde verlange na Hom en na die verlossing en vrede wat Hy skenk. Psalm 139 leer ons dat God dwarsdeur ons sien en dat Hy ons gedagtes ken nog voordat hulle by ons opkom.

Hoe ’n groot Persoon is God dan nie, as Hy tegelyk so persoonlik teenwoordig kan wees by die miljoene mense wat oor die wêreld tot Hom roep nie? Terwyl ons bid, is daar ontelbare andere wat ook in alle tale, op alle plekke, in alle situasies van vreugde of leed op hierdie oomblik met God praat, by Hom pleit, Hom dank en loof en sy persoonlike teenwoordigheid toe-eien. Dikwels word deur verskillende mense lynreg teen mekaar in gebid. En vir almal is God in sy alomteenwoordigheid op dieselfde persoonlike wyse daar.

Dit is vir ons onvoorstelbaar hoe groot God moet wees om sowel persoonlik as alomteenwoordig te kan wees. Daar was wysgere wat om hierdie rede die persoon-wees van God ontken het, omdat hulle gemeen het dat dit God sou beperk. En tog is dit wesenlik vir die Christelike geloof om aan albei hierdie werklikhede vas te hou. As God nie ’n persoonlike verhouding tot ons het nie, dan word gebed eintlik sinloos. Maar as God persoonlik is, maar nie alomteenwoordig nie, kan ons nie oral en altyd tot Hom bid nie. God is te groot om in ons menslike voorstellings in te pas. Maar daarom is Hy ook God. – WDJ