Hoogmoed

HOOGMOED
Die Burger, 20 Oktober 1984, bladsy 10

Hoogmoed is altyd verkeerd. Die hele Bybel leer ons dat God hoogmoed haat, dat Hy die hoogmoediges weerstaan, dat sy oë teen die hoogmoediges is, dat Hy die hoogmoediges in die gedagtes van hulle harte verstrooi en dies meer.

Paulus is veral reguit oor die belaglikheid van hoogmoed. Wat het ’n mens wat hy nie as gawe van God ontvang het nie? En as dit iets is wat jy onverdiend ontvang het, waarom roem jy dan daarop asof jy dit nie ontvang het nie? In die Nuwe Vertaling staan daar selfs: Waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie? (1 Korintiërs 4:7)

Natuurlik moet ons die dinge wat ons van God ontvang het met dankbaarheid aanvaar en dit nie verag nie. Dit geld vir alles – van die mees elementêre dinge van ons natuurlike lewe tot die mees verhewe dinge van ons geestelike begenadiging deur God. Maar daar is ’n groot verskil tussen die dankbare ontvangs van Gods gawes in die nederige erkenning dat dit onverdiende geskenke is, en die trotse hoogmoed op ons gawes asof dit ons eie prestasie is dat ons dit besit en dat ons daarom beter en hoër as ander is.

Die ergste vorm van hoogmoed is seker geestelike hoogmoed. Mense wat werklik deur die Gees van God aangeraak en met die Gees van God vervul is, is altyd nederige mense. Hulle roem nie in hulself of in hul eie geesvervuldheid en al die gawes wat hulle daarmee saam ontvang het nie, maar in die wonder van Gods genade. Waar die Gees van God teenwoordig is, word Christus grootgemaak, nie die eie ek van die persoon wat die Gees ontvang het nie.

Daarom is dit ook ’n oorwinning wat die duiwel soms oor Christene behaal as hy daarin kan slaag om, terwyl hulle met die Gees begin het, hulle in die vlees te laat eindig (Galasiërs 3:3), deurdat hulle soveel oor hulself en hul eie geestelike “prestasies” begin praat, dat Christus heeltemal op die agtergrond kom.

Alle geestelike hoogmoed neig altyd weer daartoe om mense wetties te maak. Hulle moet immer illustreer dat hulle nog Christeliker, nog geesteliker, nog nougesetter, nog offervaardiger, nog kragtiger, nog skerper in hul oordeel oor ander kan wees as die gewone soort Christene op wie hulle neersien. Dit was die geval met die Galasiërs en ook met sommige Christene in Kolosse. En dit bly maar deur die eeue die versoeking van die Christenmens om sy ou gekruisigde “ek” weer van die kruis af te haal en in hom te begin roem, alles dan natuurlik onder die dekmantel dat dit Christus is wat hom so groot en belangrik gemaak het.

Selfs Paulus vertel ons dat God aan hom ’n doring in die vlees gegee het om hom daarvan te weerhou om te roem oor sy groot geestelike ervaringe. Hy moes leer dat Gods genade vir hom genoeg is en dat Gods krag in swakheid tot volle werking kom (2 Korintiërs 12:9). – WDJ