BLY IN LIEFDE BY DIE WAARHEID
Die Burger, 27 Oktober 1984, bladsy 6
Ons hele lewe word bepaal deur wat ons as die waarheid sien. Daarom is die waarheid vir ons as mense so belangrik. Die spreuk is maar alte waar: “Ideas have legs”. Wat in die ’n studeerkamer van filosowe in die stilte gedink en geskryf word, het groter invloed op die geskiedenis as wat die mag van regeerders en vorste het. Dit het meermale die hele geskiedenis verander, omdat dit vir mense die waarheid geword het wat hulle lewe begin bepaal het.
Met die viering van die Kerkhervorming van die 16de eeu, dink ons weer daaraan dat die waarheid van die evangelie – soos ’n eensame monnik dit in sy kloostersel herontdek het – ’n wending van onberekenbare betekenis in die Christelike Kerk en in die geskiedenis van die Christenheid gebring het. Dit het in die geskiedenis van die kerk altyd om ’n stryd van die waarheid gegaan, want dit is net die waarheid wat werklik vry kan maak (Johannes 8:32). En omdat die hele waarheid van God en ons heil in Christus geopenbaar is, daarom het die stryd in die kerk altyd gegaan oor wie Christus is en wat Hy presies as die heil van die wêreld vir ons beteken.
Dit is Gods groot genade dat Hy die kerk hierin nie maar aan homself oorgelaat het nie. Christus het die Heilige Gees belowe om die apostels – en so ook almal wat deur hulle woord in Hom sou glo – in die volle waarheid te lei (Johannes 16:13). Die Heilige Gees is die Gees van die waarheid. Hy neem die waarheid van Christus uit die Skrif en open die oë daarvoor, bind dit op die harte van Gods kinders en sorg daarvoor dat die kerk deur die eeue heen nie blywend onder die mag van die leuen sal kom nie.
Dit beteken nie dat daar nie in en deur die kerk gedwaal kan word nie. Die stryd om die waarheid is in die kerk soms bitter en fel. Daarvan getuig die hele geskiedenis. En tog sorg die Heilige Gees dat die waarheid altyd weer seëvier. Op die duur word die leuen ontbloot en die evangelie word weer sigbaar tot bevryding en vreugde, en tot eer van God.
Telkens, as die waarheid weer nuut ontdek word, loop ons egter ’n nuwe gevaar, naamlik om die waarheid in trotsheid vir ons eie belang te gaan gebruik. Dan onstaan ’n hooghartige ortodoksie vol veroordeling en onverdraagsaamheid, sonder die nodige nederigheid en liefde waarmee ons van die waarheid behoort te getuig. Wie die waarheid gebruik om andere op ’n liefdelose wyse daarmee om die ore te slaan, misbruik die waarheid en verloor dit weer.
Die apostel Paulus vermaan ons in Efesiërs 4:15 baie uitdruklik om “in liefde by die waarheid te bly”. Hooghartigheid pas nie by die waarheid nie. Die egte kennis van die waarheid – wat tog die waarheid van Gods liefde is – gaan gepaard met liefde. – WDJ