Dieselfde weg

DIESELFDE WEG
Die Burger, 3 November 1984, bladsy 8

Die pynlikste van alle smart is die smart van selfverwyt. Dit is waar dat daar vreeslike dinge oor ons weg kan kom, dinge wat so seer is, dat ’n mens nie daaroor kan praat nie – dat jy daaronder wil versink, dat dit vir jou voel asof jy fisiek en geestelik verbrysel is op so ’n wyse dat nog net die donkerte vir jou oorbly.

Wanneer sulke dinge egter buite ons toedoen om oor ons kom, is dit vir ons relatief makliker om in die geloof berusting te vind in wat God oor ons toegelaat het. Al kan ons Gods weë met ons nie verstaan nie, het ons tog telkens weer die ervaring dat ons aan Gods trou, wysheid en liefde kan vasgryp, selfs in die bitterste pyn. En dan word die smart uiteindelik tog draagliker.

Wie dink hier nie aan Totius se aangrypende gedigte na die dood van sy kindertjies nie? Hy worstel met die raad van God, hy slinger heen en weer tussen opstandigheid en vertwyfeling. Maar uiteindelik hoor ons hom tog sê: “Berusting is so soet”. Dit gaan in hierdie berusting nie om ’n dowwe oorgawe aan ’n noodlotmatige onvermydelikheid nie, maar om ’n vertroue op en rus in die liefde van God wat by ons in ons lyding is. Daarom bring dit troos en selfs ’n onverklaarbare vrede.

Maar dit alles is soveel moeiliker wanneer die pyn waaronder ons ly, geheel of gedeeltelik deur ons self veroorsaak is. Dan kom die smart van selfverwyt by die smart van die verlies wat ons ly. Dit gee daaraan ’n diepte en ’n bytende skerpte wat deur murg en been heen sny. Ons weet dan immers dat dinge anders kon gewees het as ons anders was en anders gehandel het. Ons word op onsself teruggewerp in ons skuldgevoel en ons beland in die bodemlose put van selfveroordeling en selfkastyding wat ’n soort voorsmaak moet wees van die helse smarte waarvan die Bybel praat.

Hierdie intensiteit van die smart van selfverwyt dra inderdaad ook ’n helse karakter, want die duiwel gryp dit aan om ons onophoudelik aan te kla en ons tot die uiterste grense van selfbeskuldiging te dryf. Dit is die waarheidselement in wat hy sê, naamlik dat ons skuldig is en ons smarte verdien. Dit gee aan hom ’n greep op ons en wat op niks minder nie as ons selfvernietiging kan uitloop – tensy God ingryp en ons daarvan red.

Dit is ’n wonderlike genadedaad van God die Heilige Gees as ons in hierdie soort situasie daartoe kan kom om in te sien dat Gods liefde en trou ook in ons skuld nog vir ons daar is. Ons moet leer verstaan dat ons ook met hierdie soort smart dieselfde weg moet bewandel as met enige ander smart. Ons moet dit na God toe bring. Ons moet dit aan Hom kom afgee en oorgee. Ook ons selfverwyt en selfbeskuldiging moet ons by Christus bring. Die hele pakket van ons smart moet ons by die kruis kom neerlê.

As ons ons sonde bely het, moet ons aanvaar dat God ons vergewe het en moet ons tot rus kom – selfs onder sy kastyding – in die vertroue op sy ewige goedheid. Slegs dit sal vrede bring. – WDJ