’n Les in die liefde

’N LES IN DIE LIEFDE
Die Burger, 10 November 1984, bladsy 6

Ons is gewoond om na die woorde van Christus in Matteus 7:12 te verwys as die “goue reël”. Daar sê Christus naamlik: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”

Dit is duidelik wat Christus hiermee bedoel. Hy wil aan ons sê dat die hele boodskap van die Ou Testament – en dan natuurlik in die besonder die hele inhoud van die wet van God soos dit in die Ou Testament deur Moses en die profete verkondig is – teruggevoer kan word tot hierdie uiters praktiese reël.

Ons weet dat Christus elders ook die hele inhoud van die wet saamvat in die dubbele gebod van die liefde: die liefde tot God en die naaste. Daarin is die liefde tot God die fundamentele – die eerste gebod. Die liefde tot die naaste is egter onafskeidelik aan die liefde tot God verbonde. Hier handel Christus spesifiek oor die verhouding tot die naaste, en sy woorde kom dan daarop neer dat die inhoud van naasteliefde nie iets ingewikkelds is nie. ’n Mens hoef nie lang en ingewikkelde redenasies daarop na te kom om uit te vind wat dit beteken om jou naaste lief te hê soos jouself nie.

Daar is ’n eenvoudige “goue reël” om vas te stel wat naasteliefde beteken – jy moet jouself probeer indink in die situasie van jou medemens. Jy moet jouself in sy skoene stel. Jy moet jou vra wat sy behoeftes en begeertes is. Jy moet probeer dink hoe hy dit wat jy aan hom doen, gaan ervaar. En dan moet jy doen wat jy weet in sy beste belang sal wees, omdat jy self ’n mens is en weet wat in die beste belang van ’n mens is. Jy kan aan jouself meet wat vir jou naaste goed sal wees. En jy moet hom so behandel as wat jy graag behandel sou wil word.

Uiteindelik is wat die liefde van ons vra, dus baie eenvoudig. Dit vra van ons wat voor die hand lê. Dit vra van ons die billikheid en die mildheid en die geregtigheid waarop onsself hoop as ons met andere te doen het. Dit vra van ons om te onthou dat die andere met wie ons te make het, nie vreemde wesens is nie, maar mense net soos ons. Dit vra van ons om te onthou dat hulle ook ’n gevoel het, dat hulle net soos ons deur miskenning gekrenk kan word, deur vernedering verwond kan word, deur bedrog benadeel sal word, deur beswaddering geskaad sal word, maar deur liefde, vriendelikheid en vertroue opgebou en gelukkig gemaak sal word.

Die probleem met ons is meestal dat ons baie sensitief is vir die dinge wat ons graag wil hê aan ons gedoen moet word, maar baie onnadenkend en agtelosig as dit om die wense en behoeftes van ons man of ons vrou, ons kind of ons buurman, die man in die motor langs ons op die pad of die sieke in ons straat gaan. Jesus se les in die liefde vra ons om die gewone dinge vir hulle te doen. En tog is dit die mees buitengewone ding as ’n mens deur Gods genade daartoe kom om hierdie gewone dinge werklik te doen. – WDJ