MIN VERGIFFENIS
Die Burger, 17 November 1984, bladsy 8
Die evangelis Lukas vertel aan ons dat Jesus by geleentheid geëet het by Simon, die Fariseër. Daar het toe ’n vrou met ’n slegte reputasie binnegekom en by die voete van Jesus gekniel, sy voete gewas met haar trane, dit afgedroog met haar hare en toe sy voete met reukolie gesalf.
Simon het hom geërger aan hierdie daad van die vrou, maar meer nog aan die feit dat Christus in sy erbarming die vrou nie verstoot het nie, maar die liefdesdaad wat sy aan Hom verrig het, aanvaar het. Jesus reageer op Simon se ergernis deur hom daarop te wys dat hierdie vrou se vreemde gedrag die uitvloeisel was van haar diepe dankbaarheid oor die vergiffenis van haar sondes. Haar oorvloedige liefdesbewyse, sê Jesus, hang saam met die grootheid van haar skuld wat weggeneem is.
Juis dit, laat Jesus Simon dan verstaan, maak haar daad vir hom so onverstaanbaar, want hy wat Simon is weet nie wat sondevergiffenis is nie. Die slordige manier waarop hy selfs die elementêre bewyse van gasvryheid teenoor Jesus nagelaat het, toon dat hy geen verband gelê het tussen Jesus en sy sonde nie; nog meer: dat hy hoegenaamd geen sondebesef het nie, en dat hy daarom nie verstaan wat dit is om Jesus lief te hê as die Een wat Gods groot vryspraak oor ons lewe aankondig nie.
Jesus druk dit aan die hand van ’n klein gelykenis uit in die bekende woorde: “Ek sê vir jou, omdat haar sondes – wat baie is – vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde” (Lukas 7:47). Min vergiffenis is dus die oorsaak van die min liefde wat ’n mens vir Jesus het.
Natuurlik bedoel Jesus nie dat Simon nie net soveel sonde as die vrou het nie, al dra sy sonde miskien ook uiterlik ’n ander karakter as hare. Maar Hy bedoel dat Simon geen sondebesef het nie en dus nie vergiffenis soek nie; en omdat hy geen vergiffenis soek nie, ook nie vergiffenis ontvang nie. Daarom het hy ook geen vreugde oor sondevergiffenis nie, en dus ook geen liefde nie.
Dit is die groot probleem van die Fariseër, dat sy wettiesheid en moraliteit hom immuun maak teen egte berou oor sonde. Hy is so seker van homself en sy eie goeie lewe, dat hy nie dink dat daar werklik ’n ernstige rede vir berou en sondevergiffenis by hom bestaan nie. Miskien is hy van enkele kleinighede in sy lewe bewus, dingetjies wat hy as foute sou wil erken en waarvoor hy moontlik ook nog vergiffenis by God sou wil vra. Maar omdat hy nie dink dat dit ingrypende dinge is nie, is daar by hom geen sprake van enige verwondering daaroor dat God selfs hom kan vergewe nie. Hy het die gevoel dat God hom maar min hoef te vergewe, en daarom het hy maar baie min lief.
As ons onsself aan hierdie woorde toets, ontdek ons waarom ons so min liefde vir Jesus het. Dit is omdat ons in ons harte ook maar fariseërs is, oppervlakkige moraliste wat dink dat ons min vergiffenis nodig het. – WDJ