Tot ’n val en opstanding

TOT ’N VAL EN OPSTANDING

WD Jonker
Die Burger, 8 Desember 1984, bladsy 12

In sy aardse optrede het Jesus die mense verbaas omdat Hy so vreemd was. Dit was nie net die ongekende gesag waarmee hy opgetree het nie, dit was ook die vreemdheid van sy liefde, mildheid en barmhartigheid wat baie mense na Hom laat stroom het. Sondaars en tollenaars, uitgeworpenes en siekes, melaatses en veragtes – hulle het almal aangevoel dat daar by Jesus vir hulle tyd en aanvaarding en verlossing was.

Juis om hierdie rede was Jesus nou egter ook vir baie mense aanstootlik. Die ou Simeon het in die tempel nie verniet aangaande die kindjie Jesus gesê dat Hy bestem is om tot ’n val en opstanding van baie in Israel te wees, en tot ’n teken wat weerspreek sal word nie (Lukas 2:34). Nie net Gods liefde nie, ook Gods gerig oor die sonde het in Hom sigbaar geword.

Terwyl Jesus die ellendiges en behoeftiges aangetrek het, het baie van die magtiges en die “vromes” juis aanstoot aan Hom geneem. Hulle was die gesondes wat die geneesheer nie nodig het nie. Hulle het met veragting neergesien op die gewone volk van die land, die tollenaars en die sondaars. En dit was vir hulle ondenkbaar dat Jesus Homself met sulke mense kon assosieer. Daarom het hulle aanstoot aan Hom geneem. As dit die klas mens is waarmee Hy Homself vereenselwig, moet hy nie verwag om vir hulle aanvaarbaar te wees nie.

Dit is opmerklik dat Jesus nooit iets gedoen het om hierdie soort mense in hulle selfverheffing en vooroordele tegemoet te kom nie. Hy het lynreg ingegaan teen hul mentaliteit. So mild as Jesus teenoor die nederige en ellendige was, so onverbiddelik was Hy teenoor die eie-geregtiges – nie omdat Hy hulle gehaat het nie, maar omdat Hy hulle tot bekering wou roep.

Nooit het Jesus harder woorde gespreek as teenoor die Fariseërs en Skrifgeleerdes nie. Hy het hulle as huigelaars ontmaker, blinde leiers van blindes, wit gepleisterde grafte, ’n addergeslag. Jesus het nooit die sondes van die tollenaars en sondaars goedgepraat nie, maar Hy het dit vergewe, omdat hulle vergiffenis gesoek het. Maar die sonde van die trotsaards kan nie vergewe word nie, omdat hulle juis geen vergiffenis soek nie.

Niemand kan neutraal teenoor Jesus staan nie. ’n Mens staan òf soos ’n sondaar voor Jesus, òf jy staan teenoor Hom met jou eiegeregtigheid. Jy vind òf bevryding en vergiffenis by Hom, òf jy neem vroeër of later aanstoot aan Hom. Jy moet jou òf verbly in die vreemde genade van God wat in Hom oor jou uitgestort word, òf jy moet val onder die gerig van God oor almal wat sy nabyheid in Christus misken en verag.

Jesus is so vreemd aan alles wat vir ons vanselfsprekend is. Dit is net die oog van die eenvoudiges wat Hom kan raaksien, en die hart van die verbryselde wat Hom kan verstaan. – WDJ