Net deur genade

NET DEUR GENADE
Die Burger, 15 Desember 1984, bladsy 10

Die Bybel word nie moeg daarvan om ons daaraan te herinner dat ons nie in staat is om in eie krag ons lewe te bewaar of ons doel te bereik nie. Vir alles wat ons is en het, is ons van God afhanklik, en dit is slegs deur sy genade dat ons is wat ons is en kan word wat ons behoort te wees.

Wie ken nie die aangrypende Psalm 127 nie? “As die Here die huis nie bou nie, swoeg die wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak die wat dit beskerm, tevergeefs. Tevergeefs sal julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ’n bestaan te maak. Vir die wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.

Die bedoeling van hierdie woord is seker nie om alle menslike aktiwiteit en inspanning ydel te verklaar nie. Natuurlik roep God alle mense tot verantwoordelike bestaan, en dit sluit ook inspanning en arbeid, sorgsaamheid en vlyt in. Die psalm wil ons egter leer dat al hierdie menslike aktiwiteite in hulself nutteloos is as die Here nie genadiglik sy seën daaraan gee nie.

Geloftefees is ’n gepaste tyd om te onthou hoe volslae magteloos ons is om in eie krag die probleme op te los waarmee ons in hierdie land te make het.

Nie maklik nie

Deur Gods beskikking leef ons in ’n pragtige land met geweldige potensiaal. Terselfdertyd is dit egter ’n land wat inherent ongeveer al die moeilikste vraagstukke verenig waarmee die mensheid in ons tyd worstel. Dit is al dikwels gesê dat Suid-Afrika in meer as een opsig op ’n kleiner skaal al die probleme verteenwoordig waarmee die wêreld as geheel te make het. Dit hang daarmee saam dat die Westerse wêreld met sy soort kultuur en tegnokrasie en die sogenaamde Derde Wêreld met sy spesifieke agtergrond en lewensinstelling hier binne die grense van een geografiese gebied saamgebring is, met al die oneffenheid en pyn wat dit veroorsaak.

Dit is nie maklik om in so ’n land vrede, geluk en geregtigheid vir almal te verseker nie. Die verskille tussen die bevolkingsgroepe is so groot dat daar noodwendig botsende belange, moeilik versoenbare ideale, skerp maatskaplike teenstellings, en gevolglik ook ’n oorvloed van konflikmateriaal aanwesig is. Daarom kan daar baie maklik situasies ontwikkel wat rampspoedig vir ons land en al sy mense kan wees.

Ons kan allerlei planne maak oor hoe ons die probleme kan oplos en die bedreiginge die hoof kan bied. Dit is ook noodsaaklik dat ons dit sal doen en dat ons nie net ons beste vernuf met die oog daarop moet inspan nie, maar ook die beste waartoe ons in die vorm van goeie wil en offerbereidheid in staat is, daarin moet investeer. Maar as ons dit alles gedoen het, moet ons nogtans onthou dat, as die Here die huis nie bou nie en die stad nie bewaar nie, die bouers en wagters tevergeefs bou en waak.

Toevlug tot God

Dit is asof daar telkens weer nuwe dinge met ons gebeur wat ons daaraan herinner. As dit nie droogte is nie, dan is dit vloedramp en sikloon, die wurggreep van inflasie, ’n kwynende ekonomie met belastingdruk en werkloosheid, of voortslepende onluste in ons swart woongebiede wat aan ons sê dat ons beste kundigheid magteloos kan wees teenoor die dinge wat ons kwel.

Daarom moet ons voortdurend besef dat dit net Gods genade sal wees as die kwaad van ons afgeweer en aan ons en ons kinders ’n toekoms gegee sal word. Ons vaders het by Bloedrivier ook in ’n situasie verkeer waarin hulle ten diepste deurdronge was van hul magteloosheid. Daarom het hulle hul toevlug tot God geneem. Dit beteken nie dat hulle nie alles in hul vermoë gedoen het om die gevaar wat hulle bedreig het, die hoof te bied nie, maar hulle het geweet dat al hul inspanning sonder Gods seën, van geen betekenis sou wees nie.

Geloftefees is ’n goeie geleentheid om in ootmoed en nederigheid ons eie swakheid en magteloosheid te bely en God te vra om genadiglik die wag oor hierdie dierbare land van ons en al sy mense te hou – en om die kwaad van ons af te weer wat altyd naby lê waar mense aan hulself oorgelaat word. – WDJ