NGK sal gesuiwer uit krisis kom

NGK SAL GESUIWER UIT KRISIS KOM
DIE BURGER, 4 Februarie 1985

Prof. W.D. (Willie) Jonker, hoogleraar in die dogmatologie aan die NG Kerk se Kweekskool op Stellenbosch, het pas oorgeneem as die nuwe dekaan van die Teologiese Fakulteit. Hy dien in talle belangrike kommissies van die kerk en is die skrywer van etlike aktuele en teologiese publikasies. In die onderhoud hiernaas antwoord hy op vrae van Tobie Wiese, kerksake-verslaggewer, oor onder meer die spanning tussen teoloë en kerkleiers, die kerk en die politiek en die stryd waarin die NG Kerk verkeer.

Soms kry ’n mens die indruk daar is spanning tussen die teoloë en die sogenaamde kerkleiers. Hoekom gebeur dit?

Dit is net soms Dit hang grootliks saam met hul verskillende take.

Die teoloog moet probeer vasstel wat die prinsipieel reg en in sy studie beoordeel hy noodwendig ook die praktyk. Daarom moet hy soms sê hy sien dinge in die kerklike lewe wat nie reg is nie.

Die kerkleiding werk uit ’n ander gesigspunt. Sy groot ideaal is om te sorg dat sake ordelik verloop, indien moontlik met vrede. Hy probeer konflik vermy deur nie altyd genoegsaam te vra wat die beginsel is nie. Soms hou die teoloog weer nie genoeg rekening met die praktyk nie.

’n Teoloog is geroepe om leiding in die kerklike denke te gee.

Hy kan nie net regverdig wat bestaan nie, want hy moet die kritiek van die evangelie op alles laat val.

Daar is dikwels ‘n kloof tussen wat teoloë as wenslik sien en wat gewone lidmate meen genoeg vir hul geloofslewe is. Hoekom bestaan die kloof?

Teologie is die wetenskaplike poging om die Bybel beter te leer lees, verstaan en vertolk.

RYP

Elke gelowige lees en vertolk ook die Bybel en vir sy geloofslewe is dit voldoende. Die teoloog werk egter met wetenskaplike metodes om die Bybel beter te verstaan en te vertolk. ’n Mens sal graag wil hê dat lidmate so belese en geestelik ryp is dat hulle self kan oordeel oor wat hulle lees en hoor.

Hoekom het teoloë dikwels verskillende menings oor dieselfde saak? En hoe moet die lidmaat weet wie om te glo?

Net die Bybel is onfeilbaar, nie die teologie nie. Die teologie is relatief, want dit berus op menslike insig. Ons verstaan van die Bybel is altyd beperk en feilbaar.

Teoloë kan met mekaar verskil weens gebrekkige menslike insigte, vooroordele, ens. Hulle moet mekaar kontroleer en korrigeer Daarvoor is ‘n openlike gesprek noodsaaklik.

Die gewone lidmaat moet sorg dat hy genoeg weet om self te toets watter teoloog se opvattings in ooreenstemming met die Skrif is.

Twee teoloë kan met mekaar verskil, maar uiteindelik kan al twee nie (volkome) gelyk hê nie. Om vas te stel wie gelyk het, kan alleen uitgemaak word in ’n moeisame gesprek oor die vraag wie interpreteer die Bybel korrek?

’n Mens hoor dikwels dat predikante by die partypolitiek betrokke raak. Behoort dit so te wees en wat is die kerk se taak ten opsigte van die politiek?

Die Bybel as die Woord van God het betekenis vir alle terreine van die lewe. In sy prediking moet die kerk die beginsels van die Skrif so verkondig dat dit op alle terreine, ook die politiek, toepasbaar is.

So moet die kerk sê wat op die politieke terrein die Bybelse beginsels van geregtigheid, naasteliefde, billikheid, eerlikheid en vrede is. As die predikant in die politieke lewe dinge bemerk wat vir mense lyding veroorsaak of wat teen hulle diskrimineer, moet hy sy stem daarteen verhef.

Die kerk moet ook kritiek lewer teen kollektiewe houdings en gebruike wat in stryd met die Woord is, want mense kan ook as ’n groep sondig Sodanige kritiek is nie ’n onlangse ontwikkeling soos sommige mense reken nie. Alle gereformeerde teoloë deur die eeue, ook Calvyn, het hulle met riglyne vir die politiek besig gehou.

Die NG Kerk het nog altyd kritiek oor die politiek uitgespreek, al het hy dit soms selektief gedoen.

Maar dit beteken nie dat die kerk of die predikant hom met die partypolitiek as praktiese politiek mag inlaat nie. As ‘n dominee hom met die partypolitiek bemoei, vereenselwig hy hom met ‘n bepaalde praktiese oplossing en verloor hy sy posisie om vir almal te sê wat die eise van die Skrif is.
Baie mense sien ‘n verband tussen die besluite oor byvoorbeeld ope kerke, apartheid en die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike wat die Wes-Kaapse Sinode in 1983 geneem het en die invloed van die Kweekskool. Bestaan daar so ’n verband?

Ja, want baie van die predikante by die Sinode is Oud-studente van Stellenbosch en baie van die Sinode-verslae is met die hulp van teoloë opgestel.

Maar niemand moet dink ’n vreemde invloed is op die Sinode afgedruk nie. Die Sinode het uit eie oortuiging opgetree. Die besluite van 1983 – “wat ek as gematig bestempel” – is in die beste tradisie van die Kaapse Kerk.

Die Kaapse Kerk het ’n eie aard wat nog altyd anders was as die kerk in die noordelike provinsies.

Die Kaapse Sinode is die enigste in die NG Kerk wat ’n bruin gemeente het. Die Kaapse Kerk het nog nooit ’n bepaling gehad wat lidmaatskap tot blankes beperk nie, soos in al die ander provinsies die geval was.

Het die kweekskool kontak, met inrigtings in die buiteland en is dit vir die kerk van belang?

Ons het nog goeie kontak met inrigtings in Europa en Amerika Van hul teoloë kom gereeld hierheen en van ons gaan daarheen, maar dit geskied op ’n informele, persoonlike grondslag en op hul versoek is dit nie amptelik nie.

KORREKSIE

‘n Mens kan ook nie daarsonder leef nie. ‘n Teoloog kan nie geïsoleerd leef nie. Dit is in die abstrakte wel waar dat ‘n kerk sonder internasionale kontak nog steeds ‘n kerk van Christus
kan wees, maar so ‘n kerk sal homself in sy isolasie verstik.

As jy in die kerklike lewe dink jy kan jou interne suiwerheid bewaar deur jou van andere af te sluit, dan ontneem jy jouself die geleentheid van die kritiek en korreksie van andere.

Wat van selfkritiek?

‘n Mens is mos blind vir jou eie foute, jy kan nie kritiek lewer op dit wat jy nie kan sien nie. Jy het nie iemand anders nodig om vir jou le sê wat jy self wéét verkeerd is nie; jy het hom nodig om vir jou te wys wat jy nie sien verkeerd is nie.

Dit is wat Christene vir mekaar in die gemeente moet beteken en dit is waarom ‘n kerk ekumeniese bande het. Gelowiges het mekaar nodig.

Die Afrikaanse kerke is in Ottawa, Belhar en Chicago weens die Bybelse regverdiging van apartheid van ’n teologiese dwaling, ’n kettery, beskuldig. Moet die skuld hiervoor nie voor die deur van die teologiese skole gelê word nie?

Gedeeltelik seker wel. Maar in die vroeë ontwikkeling van die teologie van apartheid was daar sulke sterk stemme soos die van prof B.B. Keet van Stellenbosch wat die kerk duidelik gewaarsku het dat ‘n mens apartheid nie Bybels kan regverdig nie.

Sy stem is egter nie gehoor nie, deels omdat sommige kollegas hom bestry het, maar hoofsaaklik omdat daar ‘n sterk kerkleiding was wat in aansluiting by destydse algemene opvattings sulke teologiese stemme met oortuiging van die hand gewys het.

Die NG Kerk word die afgelope paar jaar deur buitengewone woelings geteister, Is dit ‘n besondere tydperk in sy geskiedenis?

Ja, ek dink die NG Kerk staan op die breuklyn tussen twee tydperke

Van die redes is ten eerste dat die Kerk se bande met buitelandse kerke teologies verander het. Die Kerk aan wie ons die naaste gestaan het, die Geref. Kerken in Nederland (GKN), het die afgelope dekades teologies verander en ons kon nie meer op hul insigte leun nie.

Ten tweede het die Afrikaner verander. Hy het modern geword. Hy is nou maar amper net soos al die ander mense. Hy kyk TV, hy reis oor die wêreld en hy het grootliks verstedelik.

Die Afrikaner het sy tydperk van Aufklärung bereik. Hy laat hom nie meer dinge vertel nie; hy wil self daaroor besluit. Lidmate het meer mondig en selfstandig geword.

Hulle aanvaar nie meer die outoriteit van die kerk sonder meer nie. Die kerk moet nou sy outoriteit by hulle waar maak deur hulle te laat sien dat wat hy verkondig, vir hulle betekenis het.

Ten derde het ons in bepaalde opsigte uit pas geraak met die ganse Christenheid. Die wêreldkerk praat al baie jare met ons oor rasseverhoudings en die Skrif, maar nou het hulle by ‘n punt van finaliteit gekom waar ons ‘n keuse oor hierdie saak sal moet doen.

As ons besluit ons breek met die hele wêreldkerk, omdat ons alleen gelyk het, waarin het ons dan gelyk? Want binne-in onsself is ’n proses van gisting aan die gang.

Intussen beskuldig ons eie jonger kerke ons en daarop sal ons óók moet antwoord. Dit is eintlik pynliker as om die wêreldkerk te antwoord, want die jonger kerke konfronteer ons daarmee dat ons aan hulle die evangelie gebring het, en hoe verstaan ons mekaar dan nou?

VERSIGTIG

Ten vierde het die politiek verander. Die NG Kerk was nog altyd so nou met die Afrikaner gemoeid dat as daar ‘n breuk in die Afrikaner se politiek kom, dan sny dit in die Kerk in.

Die Kerk is dan baie versigtig, want hy wil al die verskillende groepe vashou omdat hulle sy lidmate is.

Dit bring ‘n groot innerlike spanning in die kerk.

Het u hoop in dié situasie?

Die gisting in die denke in die NG Kerk is vir my die een groot hoopgewende teken dat die NG Kerk nie maar ‘n dooie kerk is nie. Daar is mense wat roep om reformasie en daar is sterk reformatoriese tekens in die kerk.

Die redes (hierbo genoem) vir die krisis in die Kerk bring mee dat die NG Kerk besig is met ‘n sielsondersoek.

In die geloof is ek seker dat Jesus Christus sy kerk, ook die NG Kerk, nie sal prysgee nie. Daarom sal die NG Kerk uit hierdie proses suiwerder en helderder kom.