Die liefde en die kwaad

DIE LIEFDE EN DIE KWAAD
Die Burger, 16 Maart 1985, bladsy 8

Die apostel Paulus skryf in die hooglied van die liefde dat die liefde hom nie verbly oor die onreg nie, maar hom verheug oor die waarheid (1 Korintiërs 13:6). In Die Lewende Bybel word dit geparafraseer: “Oor verkeerde dinge kan die liefde nooit gelukkig wees nie. Dit is net die waarheid wat hom gelukkig maak.”

Dit is ’n vreeslike openbaring van ons liefdeloosheid dat ons onsself telkens weer daarop moet betrap dat ons tog heimlik verheug is oor bepaalde verkeerde dinge wat gebeur. Veral as iemand van wie ons nie hou nie of wat deur ons as ’n bedreiging ervaar word, ’n misstap begaan wat hom duur te staan kan kom, is dit vir ons maar moeilik om die gevoel van vreugde daaroor in ons hart te onderdruk.

In ons omgang met ons medemens word ons dikwels meer deur vyandigheid en haat beheers as deur die liefde. Natuurlik is ons nie altyd daarvan bewus nie. Ons is meesters in die kuns om nie net andere onder ’n ander indruk te probeer bring nie, maar ook onsself wys te maak dat ons dit regtig goed met andere bedoel, selfs met ons opponente en vyande.

Maar dit gaan daarmee soos wanneer ons as toeskouers van ’n rugbywedstryd emosioneel sterk betrokke is by ons tuisspan en die kans dat hulle kan wen. As die gevaarlikste speler van die ander kant dan skielik beseer en van die veld gedra word, sal ons natuurlik uit ordentlikheid swyg of selfs sê dat dit darem baie jammer is (ons is immers sportliefhebbers!), maar heimlik is ons tog nie te spyt daaroor nie. Inteendeel, ons ervaar dit as ’n verligting.

So is ons ook in ons daaglikse bestaan betrokke in ’n stryd om ideale en propageer en dien ons persoonlike en groepsbelange wat dit vir ons moeilik maak om nie bly te word oor die ongeluk wat een van ons “vyande” of “opponente” tref nie, selfs al noem ons daardie vyande en opponente ons vriende en broers, en selfs al sê ons ook hoe jammer ons is dat dit gebeur het.

’n Griekse wysgeer het reeds gesê dat ’n mens se beste vriend hom heimlik verheug oor die leed wat jou tref. Wat ’n vreemde mengelmoes is ons hart tog! Goed en kwaad lê daarin verstrengel op ’n onontwarbare manier. En so blyk ons ook daartoe in staat te wees om spyt en verheug te wees oor dieselfde saak en dikwels nie goed te kan onderskei oor wat ons eie emosies is by die aanskou van verkeerde dinge wat ander oorkom of wat hulle doen nie.

Dit is net die suiwerheid van die liefde wat nooit gelukkig kan wees oor iets wat verkeerd is nie. Dit is net die liefde wat ’n mens werklik regskape kan maak. Die liefde waarvan Paulus in die betrokke hoofstuk praat, is dan ook nie soseer ’n emosie nie: dit is doodgewoon die regskapenheid van ’n mens in wie se hart die Gees van God regeer. Daar is niks waaraan ons ’n groter behoefte het as dit nie. — WDJ