NGK moet skuld bely

NGK MOET SKULD BELY
Eie teoloë krities oor rol in politiek
Rapport 21 April 1985 – Deur Abraham Lückhoff, Magaliesburg

DIE NG Kerk sal sy skuld moet bely dat hy hy hom sterk eensydig met die Nasionale politiek van die Afrikaner vereenselwig het, sonder om deernis teenoor ander bevolkingsgroepe te toon. Die kerk is ook skuldig aan versuim om ’n sinodale struktuur te skep waarin swart, wit en bruin saam kan besluit

Só het twee top-teoloë van die NG Kerk die afgelope week by ’n tweedaagse informele bespreking gesê. Sowat veertig kerkleiers en predikante van Afrikaans- sowel as Engelstalige kerke, wat ook swart en bruin leraars ingesluit het, het aan die gesprek deelgeneem.

Beyers Naudé
Op uitnodiging van die Reformed Study Group of Africa (Resa) is onder andere dr. Beyers Naudé, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en prof. John de Gruchy van die departement van Bybelkunde aan die Universiteit van Kaapstad, elk gevra om ’n aantal teoloë na die byeenkoms te nooi.
Resa, wat in 1982 deur ’n aantal nagraadse teologiese studente van verskillende kerke gestig is om onder meer die tussen-kerklike gesprek te bevorder, het ook tien predikante genooi. Resa stel ’n reeks sulke gesprekke in die vooruitsig.
’n Aantal swart leraars van Transvaal, asook twee bruin leraars van die NG Sendingkerk het óf nie die uitnodiging aanvaar nie, of op die tippie besluit om nie aan die gesprek deel te neem nie. Die twee bruin predikante, dr. Hannes Adonis en ds. Chris Loff, het op die lughawe D.F. Malan omgedraai.

Prof. Carel Boshoff van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria, het ook nie die uitnodiging aanvaar nie.
Dr. Naudé het die besprekingsgroep meegedeel dat ds. Shun Govender van die Reformed Church of Africa (RCA) nie die uitnodiging kan aanvaar nie, omdat hulle sommige blankes nie vertrou nie.
In die verlede het sulke gesprekke hulle suur bekom. ’n Voorbeeld is genoem van swart leraars wat in die grootste vertroue sekere mededelings aan blankes gemaak het en wat toe die volgende dag deur die Veiligheidspolisie besoek is.
“Ons het nie die vaagste benul hoe verreikend die onlangse skietery by Langa is nie. Dit het die swart gemeenskap gebring by die finale oortuiging dat daar geen sin meer daarin is om met die Regering te praat nie.
“Daarom het die swart leraars ook vir my gesê dat hulle nie kans sien om só kort na Langa met witmense te praat nie.”

Wantroue is groot
Dr. Naudé het gesê die wedersydse wantroue tussen swart en wit is so groot dat daar van ’n vertrouenskrisis gepraat kan word. Veral swart jeugdiges glo dat die omwenteling nie meer sonder bloed kan kom nie.
Persoonlik meen hy dat daar nog geleentheid is om te praat, hoewel dit reeds baie laat is. Daar sal ook sekere voorwaardes aan so ’n gesprek gestel word, onder meer dat die blanke sy skuld aan die onderdrukking en uitbuiting van die swartman moet bely.
Dr. Naudé, wat binnekort op ’n uitgebreide reis in belang van die SARK na die buiteland vertrek, waar hy onder meer ’n ere-doktorsgraad van die Notre Dame-Universiteit in Amerika ontvang, het gesê dat hy, afgesien van skerp kritiek, sal voortgaan om in blanke kerke en voor blanke gehore op te tree. Hy het ’n uitnodiging aanvaar om binnekort ’n Rapportryerskorps toe te spreek.

Burgeroorlog
“As ons nie aanhou praat nie, is skiet al alternatief. Dit sal ’n lang, wrede en bloedige burgeroorlog wees. In só ’n situasie word die kerk irrelevant. Ek wil dit probeer voorkom,” het hy gesê.
’n Vooraanstaande NG teoloog het gesê die kerk moet erken dat hy verkeerd was en belydenis doen oor:

  • Sy byna volledige vereenselwiging met die politiek van die Nasionale Party;
  • .Die versuim om die kerk onvoorwaardelik oop te stel wat eredienste, Nagmaal, lidmaatskap en legitimasie (beroepbaarheid) betref, en wit en bruin saam kan besluit.

Kerk het gefaal
Prof. Willie Jonker van die teologiese Kweekskool op Stellenbosch het gesê die NG Kerk het gefaal om sy lidmate te leer om die Koninkryk van God eerste te stel en dat politiek en Afrikanerskap daaraan ondergeskik is.
“Die NG Kerk is só gepolitiseer dat dit as ’n magtige middel gebruik is om die Afrikaner orent te hou. Die kerk het sy teologie gebuig om die politiek te regverdig. Ons is die mees gepolitiseerde gemeenskap wat bestaan”, het hy gesê.
Prof. Jonker het gesê dat presies dieselfde verskynsel ook in die swart gemeenskappe ontwikkel het. Bevryding word bo die Koninkryk van God gestel.

Engelse kerke ook
Prof. De Gruchy het gesê dat dit nie net die Afrikaanse kerke is wat skuld moet bely nie, maar ook die Engelse kerke.
“Daar is ook soort trots by die Engelse kerke dat hulle nie vir apartheid verantwoordelik is nie. Tog het hulle die bevoorregte posisie geniet wat apartheid vir hulle meegebring het sonder om te hard daarteen te protesteer.
Ds. Douglas Bat van die Kongregasionalistiese Kerk in Kaapstad het gesê dat daar ook baie skynheiligheid onder die Engelse kerke is, terwyl hulle mede-verantwoordelik vir die stelsel van apartheid is.
“Maar hulle het altyd protesteer ’n goeie verskoning om niks daaraan te doen nie.”

Wrange vrugte
Ds. Jan Mettler, predikant van die NG Sendingkerk in Mitchell’s Plain, het gesê dat die kerk in Suid-Afrika nou die wrange vrugte pluk van ’n politieke bestel wat mense verdeel en van mekaar vervreem.
Ons het verleer om met mekaar te praat en na mekaar te luister. Só kon die wit NG Kerk ons nie hoor toe ons ons konsep-belydenis aan hulle oorhandig het nie. Hulle vra of ons dit nie maar liewer wil los nie.
“Die wit NG Kerk het irrelevant geword omdat hy in ’n soort Rip van Winkel slaap verkeer. Hy kan die situasie in Suid-Afrika teologies nie meer hanteer nie.”
Volgens ds. Mettler kan die NG Kerk uit sy slaap geskud word deur onder meer volledig lid van die SA Raad van Kerke te word.

Nie omkeerbaar
Dr. Nico Smith, predikant van die NGKA in Mamelodi, ’n swart woonbuurt buite Pretoria, het gesê dat die verwydering en vervreemding in die land só groot is dat dit nie maklik meer omkeerbaar is nie.
Hy meen dat die proses van suiwering en loutering nie meer vreedsaam kan verloop nie.
“Ons moet nou iets doen vir ná die katarsis, want daar sal dan geveg word om beheer,” het hy gesê.

Ds. Theuns Eloff, predikant van die Gereformeerde Kerk in Brooklyn, Pretoria, en een van die leiers van Resa, het gesê dat die jonger predikante in die drie Afrikaanse kerke “in ’n sekere sin die slagoffers van apartheid is.”
Twee Pretoriase predikante, drr. Willem Nicol en Piet Meiring, het ook deelgeneem.