Teologiese meningsverskille

TEOLOGIESE MENINGSVERSKILLE
Brief deur ds DS Snyman (bladsy 5) met antwoord van prof. WD Jonker (bladsy 11)
Die Kerkbode, CXXXV (23), 5 Junie 1985, 5, 11

Ds. D S Snyman, Bloemfontein, skryf:
DIT sou seker naïef wees om te beweer dat daar nie ernstige meningsverskille in kerklike kringe aanwesig is nie. Die gevolge van die meningsverskille het natuurlik sy gevolge op die hele kerklike linie en in die volkslewe, wat op die staatkundige terrein vandag plaasvind, het môre sy rimpels in die kerklike lewe en andersom.

In 1947 was daar ’n ernstige meningsverskil oor rasse-aangeleenthede tydens ’n predikante-konferensie by die Fonteine. In 1948 is die debat in die Transvaalse Sinode voortgesit. Die verskil van standpunte was so ernstig dat een van die hoogleraars aan die teologiese skool ’n verklaring in die sinode uitgereik het. In 1970 het ’n hoogleraar in die Algemene Sinode van die NG Kerk geoordeel dat ’n groter aksent verleen moet word in die kerklike benadering op die horisontale vlak, en van toe af was daar in geen geringe mate ’n ontoelaatbare spanning tussen die vertikale en die horisontale vlakke in die kerklike lewe geplaas. Dit alles het die problematiek nie vereenvoudig nie. Intussen het die standpuntstellings rondom die teologie van bevryding, die teologie van revolusie, geregtigheid en solidariteit, die verskillende teologiese standpunte soms skerp en radikaal uitgespel.

Die kerk staan in die volle branding van dit alles. Daarom is dit so belangrik dat ’n kerkbeskouing nagehou word wat aan die Skrif en belydenis reg laat geskied. Natuurlik moet ons aanneem dat elke teologiese denker eerlik worstel met die gedagtes om ’n duidelike beeld en riglyne daar te stel.

So stel prof. Johan Heyns in sy Dogmatiek sy standpunt soos volg: “Die kerkwording word bepaal en moontlik gemaak deur sy deelname aan die koninkryk. Maar die kerk wys ook heen na ander gestaltes van die koninkryk … Daar is ’n kerklike gestalte en nie-kerklike gestaltes van die Godsryk en eersgenoemde is nie noodwendig heiliger as laasgenoemde nie.”

“Die kerk is maar één aspek van die Christelike lewe; daar is talle en talle ander aspekte. Die volheid van die Christelike lewe in die verskeidenheid van al sy openbaringe is veel groter en heerliker as die kerklike aspek van die Christelike lewe. Daarom mag die lewe ook nie verkerklik word nie – wel verchristelik word, wat in feite presies dieselfde is as verkoninklik.” (bl. 354)

Die vraag wat aan die orde gestel moet word, is of hierdie bepaalde siening nie besig is om die kerk in sy bestaanswyse te degradeer, en gelyk te stel met ander sogenaamde gestaltes nie. Stel daarteenoor die uitspraak van die Woord: “En ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly” (Matt. 16:18, 19)

Hieruit is dit tog duidelik dat die sleutelmag aan die kerk gegee word. Die kerk is volledig kerk – die liggaam van Christus – die kerk is nie nog soos beweer word “in wording” nie. Die kerk is volledig deur die Woord en Gees daargestel. Die kerk is die gans andere in die wêreld. Die kerk kan met niks anders vergelyk word nie.

Dit moet vir elkeen duidelik wees dat as prof. Heyns dit as sy oorwoë mening huldig, daarom verklaar hy in Rapport (13.01.1985) die volgende: “Vir geen oomblik is ek besig om te beweer dat die kerk nie ’n versoeningstaak te vervul het nie. Maar daar kom tye in die geskiedenis waarin gelowiges, dwarsoor die grense van kerke heen, mekaar se hande moet vat en saam hulle stem laat hoor teen wat verkeerd is, en hulle stem te laat hoor vir wat reg is.”

Dit is belangrik om daarvan kennis te neem dat dit wat prof Heyns bepleit, in ’n sekere sin reeds voorheen in die kerklike lewe plaasgevind het. Ek verwys na onder andere die Oxfordgroep-beweging, die AEB, die Christelike Instituut, die Broederkring van Johannesburg en in die resente tyd, Reforum en RESA. Ek laat dit aan die gesonde oordeel van elke leser oor om vir homself uit te maak watter wins dit vir die kerk ingehou het. Ons kan slegs getuig dat in ons bediening van oor die veertig jaar, dit slegs wrange vrugte opgelewer het. Die rede daarvoor is eenvoudig en voor die hand liggend. Dit is nie die manier, dis nie die styl van die kerk nie. Die kerk glo aan hervorming van binne. Dit moet voortgaan totdat daar ’n tyd aanbreek dat dit nie meer sinvol kan plaasvind nie; dan volg daar net een pad en dit is die pad van die hervorming Is u van oordeel dat ons daardie grens bereik het?

Ons kom dan tot die gevolgtrekking dat die koersaanwysing van prof. Heyns van die hand gewys moet word, en die metode wat hy gebruik om die gedagtes oor te bring, ewe seer van die hand gewys moet word, omdat dit in die kerklike kringe ontsaglike verwarring veroorsaak en geen belofte vir ’n oplossing inhou nie.

Dit is met groot ontsteltenis dat ons moes verneem dat prof. Willie Jonker dieselfde koers ingeslaan het by ’n vergadering van RESA. Daar sou hy onder andere die volgende gesê het “Die NG Kerk het gefaal om sy lidmate te leer om die koninkryk van God eerste te stel, en dat politiek en Afrikanerskap daaraan ondergeskik is. Die NG Kerk is so gepolitiseer dat dit as ’n magtige middel gebruik is om die Afrikaner orent te hou. Die kerk het teologie gebuig om die politiek te regverdig. Ons is die mees gepolitiseerde gemeenskap wat bestaan.” (Rapport 21.04 1985)

Laat ons so ’n paar van die stellings ontleed. “Die NG Kerk het gefaal om sy lidmate te leer om die koninkryk van God eerste te stel.” Wie se oordeel is dit oor die kerk? Ons is van die oortuiging dat God alleen in laaste instansie ’n regverdige oordeel oor die kerk sal uitspreek soos in die geval van die sewe gemeentes van Klein-Asië. Verder moet gevra word in hoeverre kan die stelling die waarheidstoets deurstaan? Laat ons onmiddellik sê: Ons is die laaste een wat wil roem oor dit wat gedoen is in die verlede.

Ons is onverdienstelike slawe. Wat ons gedoen het, was ons plig. Nogtans moet met groot dankbaarheid teenoor die Here gemeld word dat dertien jong kerke tot stand gekom het met ’n lidmatetal groter as die NG Kerk self, en dat letterlik miljoene rande jaarliks uit dankoffergelde bestee word om die werk in stand te hou en uit te brei. Die belangrikste van alles is dat die NG Kerk tot op die oomblik besig is om op elke terrein van die kerklike lewe waar moontlik, in neerbuigende liefde dienswerk te verrig binne die grense en ver buite die grense van die RSA.

’n Moderator van ’n Swart kerk het by geleentheid gesê: Ons is deur drie dinge van julle liefde oortuig: “1 Julle het nooit opgehou om ons te besoek nie in weerwil van ons lelike optrede deur die politiek nie. 2 Julle het julle bydraes ook nie van ons teruggehou nie. 3 Julle het nie opgehou om vir ons te bid nie.” Ek laat dit aan die kerklike publiek se oordeel oor of prof. Jonker se kritiek en die plek waar hy dit uitgespreek het, werklik billik is.

“Die NG Kerk is so gepolitiseer dat dit as magtige middel gebruik is om die Afrikaner orent te hou.” Dat die NG Kerk deur die genade van God veel daartoe bygedra het om die Afrikaner orent te hou, sal seker moeilik ontken kan word deur enigiemand wat met die geskiedenis van die NG Kerk vertroud is. Maar dit is nie te danke aan die feit dat die kerk die Afrikaner verpolitiseer het nie, maar omdat die kerk die Woord van God en die belydenis aan die Afrikaner voorgehou het. Daaroor was ’n vyand van die Afrikaner en die kerk in Johannesburg so ontsteld dat hy gesê het: “As ek net daarin kan slaag om die NG Kerk te breek dan het ek in my taak geslaag.”

Ek stel dit aan prof. Jonker dat die deurlopende getuienis van die jong kerke met wie ons as sendingsekretaris in aanraking kom, beweer dat die NG Kerk aan hulle die Woord van God gegee het en dat buitestaanders met jaloersheid getuig dat die Woord van God in daardie kerk bedien word en nie politiek gepreek word nie. Ek vrees prof. Jonker se oordeel is nie verantwoord nie.

“Die kerk het sy teologie gebuig om die politiek te regverdig. Ons is die mees gepolitiseerde gemeenskap wat bestaan.” Prof Jonker se beskuldiging kom baie ooreen met die NG Sendingkerk se beskuldiging in sy Belhar-belydenis en Status Confessionis. Daarop het die Bree Moderatuur indringend ingegaan en geantwoord. Ek verwys u weer daarna.

Ek volstaan deur daarop te wys dat die NG Kerk se kerklike leiding nog altyd met groot omsigtigheid gewaarsku het om nie politieke bloudrukke uit te reik nie. As ons u gelyk moet gee in u stelling, beteken dit in feite dat die NG Kerk ’n teologie bedryf het om aan te pas by die politiek van die dag. As dit waar is, dan het ek nie ’n antwoord op die feit dat die NG Kerk nog altyd lidmate met verskillende politieke oortuigings gehuisves het nie, en dat hulle tuis was in die NG Kerk, in weerwil daarvan. Hoe verklaar u dit? Ons gee u gelyk dat daar met die jare individue was wat gedoen het wat u beweer, maar dan was dit nog nie die kerk nie en dan het die kerklike leiding afwysend daarteenoor gestaan.

As prof. Jonker beswaar het teen die beleid wat in Ras, volk en nasie uitgespel word, dan weet hy dat die NG Kerk reeds besluit het om dit te hersien. Hy het ook die geleentheid gehad om sy bydrae te lewer en nog te lewer Ons is daarvan oortuig dat die kerk alles in die beleidstuk sal wil weer wat in stryd is met die Skrif en belydenis.

Ek vind dit vreemd dat ’n dekaan van ’n teologiese fakulteit van die NG Kerk gedoen het wat prof. Jonker doen, en die plek waar hy dit gedoen het. Wil hy vir ’n oomblik die koste bereken en hom afvra wat gaan die invloed van dit alles wees op die studente wat aan sy voete sit en wat môre en oormôre kerklik verantwoorde leiding moet gee oor die tergende vraagstukke waarmee die kerk in ons dag worstel?

Prof. Jonker antwoord:

Ek antwoord slegs op die tweede deel van ds. Snyman se brief. Die eerste deel raak prof. Heyns en hy sal seker self daarop reageer as hy dit nodig ag.

Ek kan begryp dat ds. Snyman ontsteld is oor die koerantberig. Uit die aanhaling van enkele woorde buite hulle verband, en ook nie heeltemal korrek nie, moet ’n mens bepaald die indruk kry dat ek in kras taal meegedoen het aan die hedendaagse mode om die NG Kerk as slaansak te gebruik Tog was dit heeltemal nie my bedoeling nie. Die berig is vir my ’n verleentheid, nie omdat ek skaam is dat ek by die gesprek teenwoordig was of oor wat ek daar gesê het nie, maar omdat dit ’n eensydige beeld gee van wat ek gesê het.

Die gewraakte woorde het voorgekom in my reaksie op ’n beskuldiging wat aan my persoonlik gerig is, dat ek agter my vroomheid skuil in my onwil om aan God gehoorsaam te wees en my met die Swart saak (respektiewelik die saak van die onderdruktes) te identifiseer. In my antwoord het ek daarop gewys dat Swart broeders my al tevore gekonfronteer het met die eis dat ek met die NG Kerk moet breek en my met die Swart saak moet identifiseer, om vir hulle aanvaarbaar te wees. So ’n eis vind ek egter onaanvaarbaar, omdat dit ’n politieke keuse tot ’n norm maak vir aanvaarding binne die Christelike gemeenskap. Ek is nie bereid om die keuse te doen vir die “Swart saak” teen die “Wit saak” nie, omdat ek weier om my keuse vir die NG Kerk te sien as ’n keuse vir die “Wit saak” teen die “Swart saak”. Die basiese keuse waarvoor ons gestel is, is die tussen die koninkryk van God en die wêreld, wat alle ander keuses transendeer en relativeer. Wie hierdie keuse in maatskaplike en politieke terme vertaal, bv. as ’n keuse tussen armes en rykes, onderdruktes en onderdrukkers, Swart en Wit, moet noodwendig Christendom en kerk verpolitiseer.

In die aanloop tot hierdie verweer het ek egter daarop gewys dat ook ons nie onskuldig is aan ’n vorm van verpolitisering van die kerk nie. Ook in die Afrikaanse kerke speel politiek ’n ontoelaatbare groot rol. Al het ek spesifiek die NG Kerk hier genoem, bedoel ek nie om hom alleen uit te sonder nie Die woorde oor die mees verpolitiseerde gemeenskap” dui op ons hele samelewing. Alle kerke in ons land is in ’n groot mate polities gekompromitteer. Die verdelingslyn tussen die Afrikaanse kerke en feitlik al die ander kerke in ons land verteenwoordig ook ’n politieke skeidslyn.

Die gevaar vir alle gevestigde kerke is dat hulle so aanpas by die gemeenskap wat hulle dien, dat hulle die waardes en ideale – ook die politieke ideale – van daardie gemeenskap oorneem. Dan word die kerk verpolitiseer. Meestal merk die kerk self nie hoe sy hele beslaan, selfs sy omgang met die Skrif, daardeur beïnvloed word nie. Hy kan dan nog offers vir die sending bring, lidmate uit verskillende (ideologies verwante) politieke partye huisves en teen politieke bloudrukke waarsku, maar dit neem niks weg van sy verbondenheid aan ’n bepaalde politieke ideaal nie. Sommige noem die kerk die bolwerk van die volk, en dink dan ook dat dit tot lof van die kerk strek as gesê kan word dat wie die volk wil breek, eers die kerk moet breek, ens. Maar so word die kerk verburgerlik tot ’n magtige politieke faktor, om wie se steun die politieke partye meeding. Maar het die kerk nie daarmee sy identiteit as kerk gekompromitteer nie? Die noodsaaklike geestelike taak wat die kerk ook met betrekking tot die politiek moet vervul, word onmoontlik as hy nie die nodige innerlike distansie tot die politiek kan bewaar nie.

Ds. Snyman pleit vir ’n suiwer Bybelse kerkbegrip. Maar dan behoort hy te erken dat hierdie dinge wat ons maar alte goed ken, afgewys moet word. Hyself wys op die groot betrokkenheid van die NG Kerk by politieke verskille en gee toe dat “individue” inderdaad kerk en teologie verpolitiseer. Maar om hoeveel individue gaan dit dan, as ons nou al so lank sukkel om ons gereformeerde belydenis aangaande die kerk helder deurgetrek te kry tot op die vlak van ons houdings, gesindhede en kerklike besluite? Ons sal ook maar moet erken dat dit in ons interne verskille, sowel as in ons botsing met ander Christene in ons eie land en oor die hele wêreld, feitlik deurgaans om politiek gaan.

Ek het oor jare heen openlik hierteen beswaar gemaak. Dit was dus nie iets nuuts vir my om te sê, spesiaal om die NG Kerk in ’n slegte lig te stel nie. Dit was die aanloop tot die motivering van my afwysing van ’n veel radikaler vorm van verpolitisering van kerk en teologie wat vandag ’n wêreldwye verskynsel is, en ook in ons land ’n steeds groter rol speel. Ek sou egter ’n fariseër wees as ek andere so skerp veroordeel, maar nie ook sou erken dat ons self rede tot verootmoediging het nie.

Dit spyt my dat my sterk taal aanstoot gegee het. Aan my liefde vir, verbondenheid met en hoop vir die NGK hoef niemand te twyfel nie. Daaruit kom juis my verset teen alles wat die geestelike gehalte van die kerk in gevaar bring. As ons saam met ds. Snyman pleit vir ’n suiwer kerkbegrip, moet ons die moed hê tot selfkritiek en die foute van die verlede herstel.