So moet ons bid

SO MOET ONS BID
Die Burger, 6 Julie 1985, bladsy 8

Die Onse Vader is die volmaakte gebed wat Christus aan sy dissipels geleer het. Dit is in alle opsigte volmaak. Die soberheid daarvan; die eenvoud, die direktheid, die sorg waarmee elke woord gekies is – dit alles is onoortreflik. Maar ook die opbou daarvan is op sigself reeds ’n geweldige les in hoe ons gebede behoort te wees.

Die hele gebed bestaan uit ses bedes. Van daardie ses is die eerste drie daaraan gewy om te bid vir die heiliging van God se Naam, vir die koms van sy koninkryk en vir die doen van sy wil op aarde en in die hemel. Eers in die laaste drie bedes kom ons menslike behoeftes aan die orde, en ook hier is dit merkwaardig om te sien hoe Christus dit hanteer. Daar is maar een uiters kort gebed vir ons daaglikse brood, terwyl die ander twee bedes te make het met ons geestelike nood.

Dit alles staan in ’n skerp kontras tot hoe ons gebede feitlik altyd lyk. Meestal bestaan ons gebede uit ’n lang lys van dinge waarvoor ons van God hulp en bystand vra, sowel as die vervulling van ons wense. As ons ons gebede ’n keer rustig sou bekyk, sou ons merk dat ons hoofsaaklik bid oor die dinge wat vir ons self van belang is, terwyl daar in ons gebed geen of baie min erns gemaak word met die belange van Gods Naam en koninkryk.

Dit laat ’n mens besef dat ons maar baie min onder die indruk daarvan is dat God werklik God is en dat die verheerliking van sy Naam die allerbelangrikste saak is wat daar kan wees. In ons gedagtes is ons eie saak baie belangriker. Selfs as ons teoreties sou toestem dat die saak van God belangriker is as ons eie sake; blyk dit tog prakties uit ons gebede dat ons eie wense en begeertes ’n baie groter plek in ons hart en gedagtes inneem as die saak van God.

Maar ook as ons kyk na die tyd wat in ons gebed afgestaan word vir ons wense wat ons aardse en liggaamlike welsyn betref, en ons vergelyk dit met die tyd wat bestee word aan begeertes wat ons geestelike lewe raak, sal ons dikwels merk hoeveel belangriker ons aardse welsyn vir ons is as ons geestelike welsyn. ’n Mens kan uit ons gebede baie maklik die indruk kry dat ons God maar net sien as die groot Hulp wat daar is om reg te staan om in al ons aardse en liggaamlike behoeftes te voorsien, terwyl ons baie minder bekommerd is oor ons verhouding tot Hom en ons geestelike toestand.

Dit is seker nie verkeerd om te sê dat ons gebedslewe ’n goeie termometer vir die temperatuur van ons geestelike lewe is nie. Dit is nie net dat ons biddeloosheid en gebedstraagheid bewys hoe ver ons van God af lewe nie. Dit is ook dat die inhoud van ons gebede verraai wat die dinge is waaroor ons hart werklik klop. Daarom is dit so verootmoedigend om ons in die Onse Vader te spieël. Dit behoort ons met skaamte daartoe te bring om stil te word en te vra dat God ons tog anders moet maak, sodat ons anders, en ook meer betekenisvol, kan begin bid. – WDJ