DIE HEILIGING VAN GODS NAAM
Die Burger, 13 Julie 1985, p8
Die eerste bede van die Onse Vader vra dat Gods Naam geheilig moet word.
Daarmee wil Jesus ons leer dat die belangrikste saak waarvoor ons moet bid, die verheerliking van God is. Op sigself is dit reeds ’n geweldige les. Die dinge waarvoor ons bid, is uiteraard die dinge wat die swaarste op ons hart lê. Jesus wil hê dat die heiliging van Gods Naam die eerste prioriteit van ons lewe moet wees.
Dit is in ooreenstemming met wat Hy ons leer in die samevatting van die wet. Die eerste en groot gebod, sê Jesus, is dat ons die Here onse God moet liefhê met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand. Veel groter as ons liefde vir onsself of vir ons dierbares of vir enigiets wat vir ons belangrik kan wees, moet ons liefde vir God wees. Daarvan moet ons hele lewe getuig, maar veral ook ons gebed. Ons diepste en grootste begeerte moet wees dat die Naam van God geheilig moet word.
Wat beteken dit? Gods Naam is uiteraard reeds heilig en sal altyd heilig wees. In die hemel word Gods Naam geheilig, dit wil sê die heiligheid van God word erken en geëer. In hierdie bede word gevra dat dit ook op aarde die geval sal wees. Ons bid vir onsself en vir alle mense dat almal saam met die diepste eerbied voor die aangesig van God sal leef in voortdurende erkenning van sy majesteit, almag, geregtigheid en liefde.
Gods Naam is in die besonder die openbaring, die selfbekendmaking van God. Die gebed om die heiliging van Gods Naam beteken dus ook dat ons vra dat ons en alle mense die openbaring van God in Christus reg sal leer ken, sal glo, sal aanvaar en daarby sal lewe. God word nooit groter geëer, as wanneer mense sy Woord aanvaar, die Verlossing wat Hy bied in die geloof aanneem en in dankbaarheid in die vreugde daarvan begin lewe nie.
Dit beteken veral ook dat ons God so sal vertrou, dat ons ons nie meer sal besorg maak oor onsself nie, dat ons die duiwel en sy ganse ryk nie meer sal vrees nie, dat ons sal weet dat alle dinge in die hand van God is, of dit nou lewe of dood is, teenspoed of voorspoed; en dat ons alle dinge sal sien in die lig van sy volkome mag en heerskappy.
Christus leer ons om daarvoor te bid. Want dit is net God wat kan gee dat dit met ons en met andere gebeur. Dit lê buite ons mag om ook maar die minste hiervan tereg te laat kom. As ons God so lief moet hê, as ons sy Naam so moet heilig, as ons sy grootheid so moet eer, sal Hy dit aan ons moet skenk om dit te kan doen. Maar as ons werklik daarvoor bid, maak ons ons harte oop om dit van God te ontvang. En so gee Hy aan ons wat ons vra, sodat iets van hierdie liefde tot God in ons harte ontwaak. – WDJ