DIE HEERSKAPPY VAN GOD
Die Burger, 20 Julie 1985, bladsy 8
Wat bedoel Jesus as Hy ons leer om voortdurend vir die koms van Gods koninkryk te bid?
Om te verstaan wat dit beteken moet ons die begrip “koninkryk” liewer vertaal met “die heerskappy van God”. As Jesus dit gebruik, bedoel Hy daarmee nie die algemene wêreldheerskappy van God wat met die skepping gegee is en altyd bestaan nie, maar die uiteindelike, definitiewe, volledige verwerklikte heerskappy van God soos dit aan die einde van die tye sal bestaan. Dan sal alle sonde en kwaad oorwin wees. Alles wat in stryd met die wil van God is, sal vernietig wees. Die verlossing van die mens en die ganse, sugtende skepping sal voltooi wees. Die heilswerk van Christus en die Gees sal afgehandel wees. En God sal alles in almal wees.
Johannes die Doper en Jesus self het verkondig dat hierdie uiteindelike Godsheerskappy met die koms van Christus “naby gekom het”. In Christus en in die Heilige Gees slaan God reeds vanuit die hemel ’n brughoof in die onverloste wêreld in. Die oorwinning van God oor alle boosheid en ellende en sy volmaakte heerskappy wat eenmaal sal heers, breek vanuit die einde reeds in die wêreld binne. Dit word bewys deur Jesus se Persoon, sy wonders en veral sy opstanding uit die dood, die uitstorting en inwoning van die Heilige Gees. Die heilswerk van God in die wêreld is reeds die eerste tekens dat die Godsheerskappy aan die kom is en dat dit weldra volledig sal aanbreek.
Jesus leer ons om te bid vir die koms van hierdie verlossende heerskappy van God wat geen mens self kan bewerk nie. Dit is net God wat die mag van die kwaad kan oorwin en die greep van die duiwel en die sonde op mens en wêreld kan vernietig. Mense moet daarvoor bid, daarvan getuig, daarop wag, hulle in diens daarvan stel, hard daarvoor stry, maar uiteindelik is dit net God wat dit tot stand kan bring.
Waar daar egter mense is wat onder die verlossende heerskappy van God begin leef, of waar dinge in die wêreld gebeur waarin die verlossende heerskappy van God sigbaar word, kom die koninkryk reeds, al is dit net voorlopig, en al is dit maar net ’n teken van wat eenmaal volmaak sal deurbreek. Die bekering van sondaars, die bestaan en groei van die kerk, die heiliging van ons lewens, die liefde wat tussen mense sigbaar word, die geregtigheid wat deur Gods genade op aarde tot stand kom – dit alles is tekens van die koninkryk.
As Jesus ons leer om daarvoor te bid, leer Hy ons om onsself te vereenselwig met Gods magtige vernuwende werk en die uiteindelike volle deurbraak daarvan in die wêreld. Dit is onmoontlik om hierdie bede te bid, en tog genoeë te neem met ons eie sonde en met die sondige toestand waarin die wêreld verkeer. Elke keer as ons dit bid, moet ons onsself opnuut bekeer en tot beskikking van God stel.– WDJ