Brood vir elke dag

BROOD VIR ELKE DAG
Die Burger, 3 Augustus 1985, bladsy 10

Ook ons aardse en liggaamlike behoeftes hoort in ons gebede tuis. Dit leer die vierde bede van die Onse Vader – die gebed om ons daaglikse brood – ons in sober, maar duidelike taal. Want al is hierdie gebed kort en eenvoudig, en al word daarin slegs gevra om ons brood vir elke dag, omvat dit tog alles wat daarmee saamhang, soos voorspoed in die landbou, seën op ons totale ekonomiese bedrywigheid, die gesondheid en liggaamskragte wat ons nodig het om te kan werk en te kan eet, die openbare rus en orde wat nodig is om ’n normale lewe te lei, ens. So omvat hierdie gebed eintlik alles wat betrekking het op ons tydelike lewe, en daarom gee dit ons die vrymoedigheid om met al ons liggaamlike en stoflike node tot God te gaan in die veragting dat Hy vir ons sal sorg.

Juis die feit dat Christus ons leer om vir ons daaglikse brood te bid, vestig ons aandag daarop dat ons in ons totale lewe van God afhanklik is. Dit is nie so dat ons in staat sou wees om met ons goeie beplanning, ons moderne metodes of ons wetenskaplike projekte daarin te slaag om self vir ons liggaamlike lewe te sorg nie. Al hierdie dinge is noodsaaklik en goed, maar as die seën van God nie daarop rus nie, is dit nie in staat om ons lewe in stand te hou of om ons gelukkig te maak nie. Elke stukkie brood wat ons kan geniet, is ’n gawe uit Gods hand. En alles wat noodsaaklik is om dit moontlik te maak dat ons daardie stukkie brood kan ontvang en dit mag geniet, word beheer deur die guns van God.

Intussen is dit tog belangrik om daarop te let dat Jesus ons leer om slegs te bid vir ons “daaglikse brood”. Al is dit waar, soos ons hierbo verduidelik het, dat hierdie eenvoudige woorde ons hele aardse en liggaamlike lewe omvat, mag ons tog nie verbykyk aan die soberheid van hierdie gebed nie. Jesus leer ons om slegs te bid vir wat noodsaaklik is om ons lewe te onderhou. Baie van ons gebede het te make met ons begeerte na en sorge oor rykdom, oorvloed en weelde. Ons is as Christene lankal reeds so gelykgeskakel met die wêreld, dat ons vergeet dat soberheid ’n Christelike deug is en dat aardse en geestelike rykdom dinge is wat selde met mekaar verenig kan word.

Elke bede van die Onse Vader bevat implisiet ’n gebod aan ons adres. Die gebed om die heiliging van Gods Naam bevat die gebod aan ons om Gods Naam te heilig. Die gebed dat Gods wil moet geskied, bevat die gebod dat ons ons eie wil moet kruisig om Gods wil te soek. En so bevat hierdie bede om ons daaglikse brood ook die eis aan ons dat ons self bereid moet wees om ons brood te deel met andere. As ons bid om ons eie daaglikse brood en God gee ons ’n oorvloed daarvan, verwag Hy van ons om instrumente te wees vir die verhoring van die gebede om brood wat uit ander monde tot Hom opstyg. Ons kan nooit hierdie gebed op ons lippe neem, sonder om ook te dink aan die miljoene wat gebrek ly nie. Wat ons van God ontvang, moet ons ook weer tot sy beskikking stel. God wil ons gebruik as rentmeesters om vir al sy skepsels te sorg. – WDJ