VERGIFFENIS
Die Burger, 10 Augustus 1985, bladsy 10
In die Onse Vader leer Christus ons om daagliks te bid om die vergiffenis van ons sondes. Daardeur bly ons daarvan bewus dat ons ook as kinders van God nog sondaars is.
Niemand moet, solank hy nog op aarde lewe, dink dat hy nie meer vergiffenis nodig het nie. Daar is by almal van ons so ’n groot stuk verkeerdheid en skeefgroei aanwesig, dat ons eenvoudig daagliks teen Gods gebod sondig. Dat ons nie altyd daarvan bewus is nie, is geen bewys daarvan dat ons sonder sonde is nie, maar toon net hoe oppervlakkig ons beoordeling van onsself is. Selfs as ons in teorie toegee dat ons almal daagliks sondig, is ons eerste reaksie in konkrete dinge altyd om onsself te verdedig en te verontskuldig. Dit is so moeilik om werklik te erken en te bely dat ons verkeerd het en verkeerd doen.
Die menslike hart is ’n onkenbare poel van teenstrydighede en tweeslagtighede. Natuurlik is daar in ons hart ook ’n begeerte tot die goeie, en hoe nader ons aan God leef, des te sterker is daardie begeerte. Maar tegelykertyd is daar in ons binneste ook soveel wat verkeerd is, dat dit vir ons natuurliker is om die slegte as die goeie te wil en te doen. Ons sondes is ’n mengsel van domheid, blindheid, swakheid en traagheid. Ons kies nie altyd bewustelik vir die slegte nie; ons word soms eenvoudig daarin meegevoer. Daarom het ons daagliks vergiffenis nodig.
God wil ons graag vergewe. Dit is die hart van die evangelie. Uit louter liefde en genade wil Hy ons vergewe. Maar Sy vergiffenis is geen goedkoop saak nie. Dit word ons nie geskenk sodat ons maar rustig kan voortgaan om te sondig nie. Dit wil ons vrymaak van ons skuld, sodat ons anders kan word en self ook die liefde en goedheid kan openbaar wat God aan ons bewys.
Daarom leer Jesus ons om te sê: “Vergeef ons ons oortredinge, net soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree”. Dit is net ’n mens wat self weet dat hy ’n sondaar is wat vergiffenis nodig het, wat ook ander kan vergewe. Wie nie bereid is om andere te vergewe nie, kan nooit regtig berou oor eie sonde hê en dankbaar wees oor die vergiffenis daarvan nie. So word aan ons bereidheid om andere te vergewe eers duidelik of ons self ons gebed om Gods vergiffenis ernstig opneem en of ons in die geloof die vergiffenis van ons sondes uit Gods hand aanneem.
Na twee kante toe maak vergiffenis ons skoon: dit reinig ons van ons skuld teenoor God, en dit reinig ons van die woede en wrok wat ons teenoor mekaar koester. Ons kan nie die een sonder die ander hê nie. Ons hart kan nie regtig met God reg wees as dit nie ook reg is met ons naaste nie. Vergiffenis is nie iets wat ’n mens kan ontvang as jy nie bereid is om dit deur te gee na andere nie. ’n Mens kan nie God met jou offer by die altaar eer as jy nie bereid is om jou met jou broer te versoen nie. Ons het hier te make met twee dinge wat God saamgevoeg het. En wat God saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. — WDJ