Soos wêreldse mense

SOOS WÊRELDSE MENSE
Die Burger, 24 Augustus 1985, bladsy 8

Nie alle Christene leef op dieselfde geestelike vlak nie. Dit is moontlik dat ’n mens Christus as jou Verlosser aangeneem het en dat jy sekerheid kan hê dat jy ’n kind van God is, en dat jy nogtans geestelik op ’n baie elementêre vlak kan beweeg wat glad nie reg laat geskied aan die feit dat jy ’n Christen is nie.

Die Nuwe Testament bied aan ons ’n baie sprekende voorbeeld hiervan in die gemeente van Korinte. Aan die feit dat ’n mens in daardie gemeente met Christene te make gehad het, kan daar geen twyfel wees nie. Paulus sê by die inleiding van sy briewe aan hulle, wonderlike dinge oor die ryke begenadiging wat hierdie gelowiges te beurt geval het. Ons weet ook dat daar in die gemeente van Korinte ’n rykdom van gawes voorgekom het, sodat Paulus selfs ’n groot deel van sy eerste brief daaraan wy.

En tog is juis hierdie gemeente seker die gemeente waarmee Paulus dit die moeilikste gehad het. Allerlei sondes het onder hulle voorgekom, soos verdeeldheid, onreinheid, trots en selfverheffing, ens. Daarom is dit nie vreemd om te hoor dat Paulus in hoofstuk 3 aan hulle skryf dat hy met hulle nie kon praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie. Hy moes met hulle praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies in die geloof. Hy moes hulle met melk voed, nie met vaste kos nie, want hulle sou dit nie kon verteer nie, omdat hulle, sê Paulus, nog wêreldse mense is.

Dit is ’n vreeslike moontlikheid dat ’n mens ’n Christen kan wees en jou dus deur die Gees van God behoort te laat lei, maar dat jy in die praktyk van jou lewe tog kan blyk presies net soos ’n ongelowige te wees wat jou laat beheers deur die ideale, redenasies, begeertes, oorweginge en gewoontes van die vlees. Paulus noem sulke mense ook klein kindertjies in die geloof. Dit is mense wat wel die basiese kennis van die heil in Christus ontvang het, maar nooit verder gegroei het nie. Die werklike implikasies van hul verbondenheid met Christus het nog nie tot hulle deurgedring nie.

’n Mens vra jouself af of die grootste gros Christene nie binne hierdie kategorie val nie. Die lae vlak van die geestelike lewe van die meeste lidmate van die kerke is dikwels so ooglopend. Die dinge wat vir hulle die swaarste weeg, is ook maar geld en goed, eer en selfhandhawing. Hul goedheid gaan dikwels nie uit bokant die ordentlikheid van elke fatsoenlike mens nie. Hulle leef prakties maar net soos wêreldlinge.

As die tekens egter nie bedrieg nie, is daar vandag oral by Christene ’n nuwe bewuswording daarvan dat dit anders kan en moet wees. Daar is ’n begeerte na ’n nuwe kwaliteit van Christenskap. Dit is of daar ’n roering van die wind van die Gees deur die Christenheid gaan. Ons hoef nie wêreldse mense te bly nie. Dit is Gods bedoeling dat ons geestelike mense sal word wat die stempel van Christus sal dra. Laat dit tog nie aan u verbygaan nie. — WDJ